Kalm Senekal wen by Zebula

Die 35-jarige JJ Senekal het die SDC-ope op die Sonskyntoer by die Zebula-gholflandgoed met vier houe gewen. (Foto: Sunshine Tour/Twitter)

Die aanvalle het die een na die ander gekom, maar ʼn koel en kalm JJ Senekal (-25) het elkeen daarvan hou vir hou afgeweer. Die 35-jarige Senekal het die SDC-ope op die Sonskyntoer by die Zebula-gholflandgoed met vier houe gewen.

Hy het die laaste rondte afgeslaan met ʼn voorsprong van twee houe. Nog ʼn Suid-Afrikaner, Casey Jarvis (-21), het moedig probeer om Senekal in te haal en daar was drama oor die laaste paar putjies nadat donderweer spel vir ʼn rukkie onderbreek het.

Die 19-jarige Jarvis het verlede jaar beroepsgholf begin speel, maar die jong man van Boksburg speel al toernooie sedert hy ses jaar oud is. Sy perfekte kaphou van die rand van die setperk af om ʼn arend op die 15de putjie aan te teken, het vir ʼn oomblik Senekal se voorsprong tot een hou verklein. Senekal het ʼn voëltjie van sy eie aangeteken om op die 16de bof af te slaan met ʼn voorsprong van twee houe.

Jarvis se naderhou op die syfer 4 het aan die agterkant van die setperk geland en die verwagting was gering dat hy nader sou kom aan Senekal se telling. Hy het egter ʼn pragtige monster-sethou ingeslaan vir nog ʼn voëltjie en die voorsprong was net een hou.

Die 17de putjie sou vir die finale drama sorg.

Jarvis het ʼn swak kaphou van langs die setperk geslaan en het ʼn hou aan syfer afgestaan. Boonop kon Senekal ʼn voëltjie vier met ʼn lang sethou wat hy ingeslaan het.

Dit het beteken Senekal kon op die 18de bof aantree met ʼn gerieflike voorsprong van drie houe. En net om sout in die wonde te vryf, het hy ʼn voëltjie op die laaste putjie aanteken vir ʼn rondte van 65 houe – sewe houe beter as die baansyfer.

Pieter Moolman (-19) en Jaco Prinsloo (-19) was in die gesamentlike derde plek.

Op die DP World-toer het dit nooit gelyk of iemand anders as die Deen Thorbjorn Olesen (-24) die titel gaan wen nie. Hy het ses voëltjies in ʼn foutlose laaste rondte gespeel om die Thailand Classic met vier houe te wen.

Die 33-jarige Olesen het die laaste rondte begin met ʼn voorsprong van twee houe. Dit is sy sewende titel op die DP World-toer en eerste oorwinning sedert die Britse Meesters in Mei verlede jaar.

Die Duitser Yannik Paul (-20) was tweede, met nog ʼn Duitser, Alexander Knappe (-18), en Joost Luiten van Nederland (-18) in die gesamentlike derde plek.

Dit was ook ʼn goeie dag vir ʼn ander Deen. Oliver Hundeboll het dalk in die gesamentlike 33ste plek geëindig, maar sy kolhou op die 13de putjie het aan hom ʼn blinknuwe BMW besorg.

Die Suid-Afrikaners Zander Lombard (-12) en Jayden Schaper (-12) was in die gesamentlike 17de plek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.