Kan Garcia dié keer die ys breek?

Sergio Garcia (Foto Chris Carlson)

Gholfkenners sê dis nie meer ʼn geval van as nie, maar wanneer die 44-jarige Spanjaard Sergio Garcia die ys gaan breek in die LIV-gholfreeks.

Tot dusver bly dit een van die kopkrappers waarom Garcia, wat reeds 36 toernooie in sy loopbaan gewen het, insluitende die Amerikaanse Meesters in 2017, nog segeloos is in die LIV-reeks.

Hy was al baie naby aan ʼn oorwinning en het reeds twee uitspeelstryde teen Talor Gooch en Joaquin Niemann verloor, maar ʼn oorwinning ontwyk hom steeds.

Maar dalk kan hy sy eerste oorwinning behaal in LIV-gholf se Miami-toernooi wat op Trump National Doral in Florida gespeel word.

Garcia, wat een van 13 LIV-spelers is wat in die komende Amerikaanse Meesters gaan speel, loop ná die eerste ronde saam met die Amerikaners Peter Uihlein en Gooch voor op 67 houe (-5).

Hulle is een hou voor Suid-Afrika se Dean Burmester, Scott Vincent van Zimbabwe en die Amerikaners Bubba Watson en Matthew Wolff (almal -4).

Louis Oosthuizen is op -2, met Charl Schwartzel (+1) en Branden Grace (+3) verder terug.

In die spanafdeling is die Suid-Afrikaanse Stinger-span (-5) agt houe agter die voorloper, the Range Goats (-13).

Die Range Goats word gevolg deur Legion XIII (-8) en 4Aces (-7).

* In die Texas-Ope, wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks en op TPC San Antonio gespeel word, het die onbesonge Akshay Bhatia die voortou met vyf houe ná die tweede ronde geneem.

Bhatia het op 133 houe (-11) geëindig het nadat hy rondes van 63 en 70 op sy telkaart ingevul het.

Bhatia word deur drie van sy Amerikaanse landgenote, Denny McCarthy, Russell Henley en Brendon Todd gevolg, wat al drie op 138 (-6) in die klubhuis geëindig het.

Die Noord-Ier Rory McIIroy is op 139 ná rondes van 69 en 70.

Suid-Afrika se Garrick Higgo is op 143 (-1) en Christiaan Bezuidenhout op 144 (gelyk aan baansyfer).

* In die Absa-uitnodigingstoernooi vir vroue wat by die Serengeti-landgoed buite Kempton Park gespeel word, slaan Casandra Alexander en Kiera Floyd Saterdag in die laaste ronde as gesamentlike voorlopers af nadat hulle op 138 (-6) na die tweede ronde geëindig het.

Die 19-jarige Floyd, wat op haar tuisbaan speel, was ná die eerste ronde voor, maar sy het 71 houe in Vrydag se tweede ronde aangeteken om saam met Alexandra die eerste plek te beklee.

Die immergroen Lee-Anne Pace (141, -4) is derde, gevolg deur Harang Lee van Spanje op 142 en Bonita Bredenhann van Namibië en Stacey Bregman saam op 143.

* In die Sonskynreeks se Limpopo-kampioenskap wat by die Euphoria-landgoed in Mokgophong gespeel word, loop Suid-Afrika se Zander Lombard met een hou voor ná die tweede ronde.

Lombard het op 131 (-13) geëindig en is een hou voor Jacques Blaauw (65) en Deon Germishuys (66) wat albei op 132 (-12) is.

Jean Hugo en Keenan Davidse is saam vierde op 134 (-10), gevolg deur Jovan Rebula, Jacques Kruyswijk en Rupert Kaminski wat saam sesde is op 135.

Wilco Nienaber, wat ná die eerste ronde voor was ná sy 66 houe, het 71 houe in die tweede ronde aangeteken en is saam tiende op 137 (-7).

Bronne: The Golf Channel en Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.