LIV-spelers kan in Meesters speel

Louis Oosthuizen by die LIV-toernooi. (Foto: Eric Espada/Getty Images/AFP)

Altesame 16 sterre van die omstrede LIV-gholfreeks het ’n vroeë Kersgeskenk gekry met die nuus dat hulle welkom is by aanstaande jaar se Amerikaanse Meesterstoernooi.

Die Suid-Afrikaners Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel is twee van die gelukkiges wat die groen lig gekry het om die eerste week in April op die magiese Augusta-baan in dié jaar se eerste Major-kampioenskap te speel.

Luidens ’n verklaring deur die voorsitter van die Augusta National-gholfklub, Fred Ridley, is daar geen veranderinge gemaak aan die kriteria waarvolgens spelers jaarliks vir deelname aan die gesogte Amerikaanse Meesters kwalifiseer nie.

Volgens Ridley is die ringkoppe van die Meesterstoernooi egter teleurgesteld in die tweespalt wat daar tans in die spel heers, maar hulle het nie afgewyk van hul strewe om soos altyd ’n uitgelese veld vir die Meesterstoernooi saam te stel nie.

Ridley het gewaarsku dat die kwalifiserende kriteria ná 2023 se toernooi kan verander. ’n Aankondiging in dié verband sal gedurende aanstaande jaar se toernooi gemaak word.

Volgens die huidige kwalifiseringskriteria word alle vorige wenners regstreeks tot die toernooi toegelaat.

Ses LIV-spelers, naamlik Phil Mickelson (2004, 2006 en 2010), Bubba Watson (2012 en 2014) Sergio Garcia (2017), Patrick Reed (2018), Dustin Johnson (2021) en Schwartzel (2011), val in hierdie kategorie en kan gevolglik hul tasse pak vir die reis na Augusta.

Voorts kwalifiseer enige speler wat in die afgelope vyf jaar een van die ander drie Major-titels ingeoes het, vir deelname op Augusta.

Die LIV-sterre Cameron Smith (2022 Britse Ope), Bryson DeChambeau (2020 Amerikaanse Ope) en Brooks Koepka (2019 Amerikaanse PGA) kwalifiseer dus as onlangse Major-kampioene.

Laastens kwalifiseer sewe LIV-spelers vir Augusta op grond van hul posisies op die wêreldranglys.

Talor Gooch, Kevin Na, Joaquin Niemann, Jason Kokrak, Harold Varner III, Abraham Ancer en Oosthuizen sal volgens berekeninge almal dié jaar onder die top-50 op die wêreldranglys afsluit, wat regstreekse toelating tot die Meesters verseker.

Veral Oosthuizen sal breed glimlag. Hy beklee die 49ste posisie op die ranglys danksy ’n goeie sewende plek twee weke gelede in die Alfred Dunhill-kampioenskap op Leopard Creek.

Waar die LIV-spelers in hul noppies sal wees dat hulle aanstaande jaar op die heiligdom van Augusta toegelaat sal word, is hul deelname aan die Amerikaanse PGA, Amerikaanse Ope en Britse Ope nog in die weegskaal.

Die Augusta-ringkoppe se verrassende aankondiging om die LIV-spelers toe te laat, kan egter die deur vir hulle oopmaak om aanstaande jaar in al vier Majors te speel, sou hulle kwalifiseer.

Die LIV-spelers kan nie in die Amerikaanse PGA-reeks speel nie omdat die spelers wat na die Saoedi-Arabies gefinansierde reeks oorgeloop het, deur die PGA geskors is.

Die LIV- en PGA-reekse is tans in ’n hewige regstryd gewikkel, met die hof wat eers in Januarie 2024 die saak sal aanhoor oor die kwessie of die LIV-spelers onregmatig al dan nie geskors is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.