Louis kan glimlag ná eerste dag van VSA-Ope

Louis Oosthuizen. Foto: Ezra Shaw/Getty Images/AFP.

Die Curriebeker word nie ná die eerste twee naweke se wedstryde gewen nie en die Wêreldbeker-kriekettoernooi ook nie ná ’n span se eerste groepwedstryd nie. Net so is die uiteindelike kampioen van ’n groot gholftoernooi nie noodwendig die speler wat ná die eerste dag se spel voorloop nie.

Maar ’n speler of ’n span moet ongetwyfeld rustiger slaap wanneer daar sommer vanuit die staanspoor ’n sterk vertoning gelewer word.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen en die VSA se Russell Henley is die gesamentlike voorlopers van die Amerikaanse Ope by Torrey Pines in San Diego.

Oosthuizen, die Britse Ope-kampioen van 2010, se drie agtereenvolgende voëltjies het tot sy spogvertoning bygedra en toe swak lig die dag se spel kortgeknip het, het sy telling op -4 gestaan; gelyk met Henley wat die volle baan in 67 houe getem het.

“Ek is tevrede met my vertoning en hopelik kan ek op hierdie momentum voortbou,” het Oosthuizen gesê.

Brooks Koepka (-2) en Jon Rahm (-2) is op die voorlopers se hakke.

Suid-Afrika se Garrick Higgo, wat vroeër sy eerste oorwinning van die PGA-reeks behaal het toe hy die Palmetto-toernooi in Suid-Carolina gewen het, het ’n ronde van 76 gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.