Nog ’n SA’ner is Presidentebeker-kaptein

Trevor Immelman. (AP Photo/Chris Carlson).

Suid-Afrika se Trevor Immelman het ’n paar groot skoene om vol te staan nadat hy vroeër vandeesmaand as Ernie Els se plaasvervanger as die kaptein van die internasionale Presidentebeker-span aangewys is.

Hy is die sewende speler – en die derde Suid-Afrikaner – om die span te lei; maar maklik gaan dit beslis nie wees nie. Die internasionale span het nog net een keer sedert 1994 gewen, terwyl die Amerikaners in die laaste agt toernooie koning gekraai het.

“Almal gaan hul eie stempel probeer afdruk en probeer om die spelers na die beste van hulle vermoë te laat speel. Maar Ernie het uitstekend met die spelers gepraat; hy het baie sinvolle dinge as kaptein oorgedra,” het Immelman gesê.

“Hy is nie altyd ’n man van vele woorde nie, maar wanneer hy by die spankamer ingekom het, kon die hele span dadelik sy intensiteit en passie aanvoel. Jy kon vóél hoe graag hy wou wen.”

Immelman, ’n voormalige meesterskampioen, het in twee Presidentebeker-spanne gespeel, albei onder Gary Player. Terwyl die 2005-toernooi ’n naelbytstryd was, het die Amerikaners gemaklik in 2007 gewen.

Verlede jaar het die internasionale span so amper die bordjies op die Royal Melbourne verhang, maar Tiger Woods het geskitter om vir ’n Amerikaanse sege van 16 -14 te sorg.

Die komende Presidentebeker-toernooi word volgende jaar in die VSA beslis. Die tuisspan het nog nie sy kaptein aangekondig nie, maar volgens gerugte is Zach Johnson die voorloperkandidaat.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.