‘Norman moet waai’ – Woods

Greg Norman (Foto: Adrian DENNIS / AFP)

Greg Norman, die uitvoerende hoof van die omstrede LIV-gholfreeks, moet sy tasse pak en waai.

Voordat dít nie gebeur nie, kan daar geen gesprekke tussen LIV en die Amerikaanse PGA-reeks wees om vrede tussen die twee organisasies te probeer bewerkstellig nie.

Só sê die legendariese Tiger Woods, die persoon wat manalleen die gesig van wêreldgholf die afgelope 20 jaar verander het. Hy is grootliks daarvoor verantwoordelik dat maatskappye van oor die wêreld deesdae honderde miljoene dollars aan borgskappe in die spel inpomp en die PGA-reeks se inkomste uit TV-regte vanjaar amper R20 miljard was.

Woods het Dinsdagmiddag in Albany in die Bahamas op ’n nuuskonferensie die vyandigheid wat daar tans tussen die PGA- en LIV-reeks heers, voor die deur van Norman gelê.

Die Aussie-gholfster bestuur die LIV-reeks namens die Saoedi-Arabiese openbare beleggingsfonds, wat vanjaar sowat R24 miljard bestee het om die nuwe reeks te begin.

Volgens Woods het Norman se negatiewe houding jeens die PGA-reeks, asook sy kwaadwillige en oneerbiedige uitsprake oor die organisasie ’n vyandigheid tussen die twee reekse en die spelers geskep.

Norman is ook verantwoordelik vir al die hofgedinge tussen die twee strydende organisasies.

“Hy moet gaan en daar kan slegs gesels en oor vrede onderhandel word sodra Greg weg is en die hofgedinge beëindig word,” het Woods gister gesê.

Die wêreld se huidige nr. 1-speler, Rory McIlroy, het verlede week presies dieselfde gesê toe hy ook ’n vinger na Norman gewys het oor die ongemaklike oorlog waarin die PGA- en LIV-reeks hulle bevind.

Woods het gister ’n wye aantal onderwerpe met die media bespreek en onder meer gesê sy beseerde regterbeen kniehalter al sy pogings om weer goeie gholf te speel en is ook die rede hoekom hy hom aan vandeesweek se Hero-uitdaagtoernooi moes onttrek.

“Ek kan die balletjie slaan, maar ek kan nie ordentlik stap nie. Dit is seer. Ek dink nie ek het meer baie oor in my regterbeen nie,” het die Yank gesê, nadat hy onthul het hy het vanjaar ’n verdere twee operasies aan sy been ondergaan ná die handvol in 2021 wat voorkom het dat sy been geamputeer is.

Volgens Woods gaan hy wel aanstaande jaar probeer om in al vier Majors te speel “en miskien in nog een of twee ander toernooie”.

Wat betref die huidige polemiek rakende die wêreldranglys het Woods niks gesê oor die LIV-reeks se spelers wat tans nie vir ranglyspunte kwalifiseer nie.

Hy het egter die mening uitgespreek dat die aantal punte wat aan toernooie in die onderskeie reekse toegeken word, hersien moet word aangesien spelers wat in ’n reeks soos die Europese reeks speel, op die oog af te min punte verdien.

“Die puntetoekenning is vantevore verander, so hopelik kan dit vinnig weer verander word,” het Woods gesê.

Die vyftienmalige Major-kampioen het voorts onthul dat die Covid-19-epidemie byna die PGA-reeks op sy knieë gedwing het.

“Die PGA moes ’n enorme lening aangaan om kop bo water te hou en het dit finansieel byna nie gemaak nie.

“As dit ook nie was vir getroue ondersteuners en borge nie, sou beroepsgholf sy einde bereik het.”

Phil Mickelson, een van die LIV-reeks se groot name wat sy rug op die PGA-reeks gekeer het, het kort daarna op Twitter Woods se uitsprake oor die PGA-reeks se geldsake bevraagteken en gesê die organisasie het bates wat meer as R50 miljard werd is.

Mickelson het die PGA-reeks van geldgierigheid beskuldig toe hy vroeër vanjaar aangekondig het dat hy hom by die LIV-reeks aangesluit het.

Hy het gekla dat die spelers nie genoeg betaal word nie en die PGA-reeks die meeste geld vir hulself hou.

Ná afloop van Woods se nuuskonferensie het die PGA-reeks op Twitter gesê die organisasie moes tydens die Covid-19-epidemie van sy resewerfondse gebruik om te oorleef en het geen lenings aangegaan nie.

Wat ook al die presiese aard van die PGA-reeks se geldsake, een ding is duidelik en dit is dat hulle finansieel nie met die LIV-reeks kan meeding nie.

Maar Woods sê alles gaan nie oor geld nie.

“LIV is ’n bodemlose put en niks verhinder hulle om aanstaande jaar of in die toekoms $4 miljard of selfs $8 miljard (sowat R68 of R136 miljard) te spandeer nie.

“Maar geld skep geen nalatenskap nie. Jy wil jouself vergelyk met legendes soos Sam Snead en Jack Nicklaus. Jy kan dit doen op die PGA-reeks, maar nie deur in die LIV-reeks te speel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Treurwilger ·

Wat ‘n arrogante, onnosel ding om te sê.
Sonder Greg Norman wás daar geen LIV óm gesprekke oor te voer nie.

Lourens ·

Klink asof Woodsie bang is vir die “Great White Shark”

Deonne ·

Norman is n sakeman met n baie sterk persoonlikheid en is nie bang om doekies om te draai nie.
ja die Seaudi’s het miljoene ingestoot maar soos enige projek is LIV golf n besigheid, so LIV gaan binnekort moet vrugte afwerp. Norman weet dit , dit is waarom hy miljoene betaal word en deur hulle aangestel is. Norman is n aggressiewe sakeman wat nie gaan toelaat dat enige opposisie insluitend die PGA of die DP wereld toer in sy pad staan nie. Myns insiens is die PGA boelies en wil die gholf wereld monopoliseer , maar dit kom nou stadig tot n einde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.