R517 000 vir 23ste plek

Christiaan Bezuidenhout in aksie tydens die Amerikaanse Ope. (Foto: Sean M. Haffey/Getty Images/AFP)

Christiaan Bezuidenhout kon nou wel nie die Ierse Ope-gholftoernooi wen nie, maar sy tjek van sowat R517 000 vir die gesamentlike 23ste plek is nie te versmaai nie.

ʼn Ronde van 74 op die derde dag en ʼn 70 in die vierde ronde het beteken Bezuidenhout staan geen kans om die Australiër Lucas Herbert in te haal nie. Die Suid-Afrikaner het tien houe agter Herbert geëindig.

Herbert het met drie houe sy tweede titel op die Europese toer gewen ná ʼn laaste ronde van vier houe onder die baansyfer 68. Rikard Karlberg van Swede was tweede.

Die ander Suid-Afrikaners in die toernooi was Zander Lombard (gesamentlik in die 33ste plek) en Darren Fichardt (gesamentlik 41ste).

Vandeesweek is dit die Skotse Ope voordat die spelers volgende week aantree vir die volgende major-toernooi op die kalender, die Britse Ope by Royal St George’s in Kent, Engeland. Dit is dus spelers se laaste kans om gewoond te raak aan die grys, nat Engelse weer ter voorbereiding vir nog ʼn groot titel.

Op die Amerikaanse PGA-toer het nog ʼn Australiër, Cameron Davis, vir drama gesorg. Hy het die Rocket Mortgage Classic gewen ná ʼn uitspeelstryd van vyf putjies.

Die 26-jarige Davis van Sydney het ʼn brouhou aangeteken op die sestiende putjie en dit het gelyk of sy kanse daarmee heen is. Hy het op die sewentiende die bal vanuit die sandput in die putjie geslaan om ʼn arend aan te teken en toe nog ʼn voëltjie op die agtiende om vir die uitspeelstryd te kwalifiseer.

Davis se sethoue om die uitspeelstryd te beklink het herhaaldelik die putjie ontwyk. Troy Merritt en Joaquin Niemann het verbete vasgeklou, maar Niemann is op die eerste uitspeelputjie uitgeskakel.

Daarna was dit Merritt wat op die syfer-3 15de putjie nie die bal op die setperk kon kry van die bof af nie. Davis kon met ʼn baansyfer 3 die titel beklink.

Onder die Suid-Afrikaners het Garrick Higgo in die gesamentlike 41ste plek geëindig – tien houe agter Davis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.