Rahm onttroon McIlroy

Argieffoto van Jon Rahm. (Foto: AP Photo/Charles Rex Arbogast)

’n Derde oorwinning vanjaar vir die wêreld se nuwe no. 1-speler en ’n stewige klop op die skouer vir Tiger Woods, vir sy vertoning in sy terugkeer na die Amerikaanse PGA-reeks.

Die Spanjaard is mansgholf se derde no. 1-speler van 2023 nadat hy die Amerikaner Scottie Scheffler na een week bo-aan die wêreldranglys onttroon het. Die Yank het op sy beurt vir Rory McIlroy van die troon gestoot. Die Noord-Ier beklee sedert Oktober verlede jaar hierdie posisie.

Die 29-jarige Rahm het Sondag sy derde Amerikaanse PGA-titel van die jaar ingepalm toe hy die Genesis-uitnodigingstoernooi op die moeilike Riviera-baan in Pacific Palisades buite Los Angeles met twee houe gewen het.

Rahm en die Yank Max Homa was in ’n hewige tweestryd gewikkel totdat die Spanjaard met twee voëltjies by die veertiende en sestiende putjies Homa se lot verseël het.

Rahm het ná ’n telling van 69 op ’n totaal van 267 (-17) klaargemaak, met Homa wat op 269 geëindig het ná ʼn 68 oor die laaste agttien putjies.

Patrick Cantlay (67 vir 270) en Will Zalatoris (64 vir 271) het onderskeidelik derde en vierde klaargemaak.

“Sjoe, dit was moeilik, maar ek voel trots en geëerd dat ek dit reggekry het,” het Rahm na sy sege gesê en dadelik daarop gewys dat die legendariese Jack Nicklaus én Woods nie een in hul loopbane op die Riviera-baan kon seëvier nie.

Die 47-jarige Woods het onder luide toejuiging die toernooi in die 45ste posisie afgesluit, ná ʼn 73 die laaste dag vir ’n totaal van 283 (-1).

Dit wou voorkom of Woods se energie hom oor die naweek in die steek gelaat het, maar die vyftienmalige Major-kampioen was tevrede met sy terugkeer-vertoning.

“Daar was tye dat my liggaam nee gesê het, terwyl my brein ja gesê het, maar dit is verstaanbaar ná ’n lang afwesigheid en my probleme om ordentlik te kan loop sonder enige pyn.

“Wat my spel betref, is ek egter gelukkig. Ek weet nou waar ek staan en sien met vertroue uit na die jaar se vier Major-toernooie. Ek weet nie of ek in enige ander toernooie sal speel nie,” het Woods agterna gesê.

Ko wen in Saudi-Arabië

Die Nieu-Seelander Lydia Ko het Sondag op die Royal Greens-baan buite Jeddah die Saudi-uitnodigingstoernooi met een hou gewen en haar jaar op ’n wennoot begin nadat sy 2022 ook op die wennersverhoog afgesluit het.

Ko en die Amerikaner Lila Vu het gelyk getrek met een putjie oor, maar die Yank het by die laaste putjie gestruikel toe sy haar tweede hou in die water kort van die setperk geslaan het.

Ko het die laaste ronde in 68 houe voltooi om op ’n totaal van 267 (-21) te seëvier en die wentjek van $750 000 (R13 miljoen) in die sak te steek. Aditi Ashok van Indië het op 268 uiteindelik tweede geëindig.

Die Yank Lexi Thompson (71), Manon de Roey van België (63) en Vu (71) het op 269 die derde plek gedeel.

Die Saudi-toernooi het ’n totale pryspot van $5 miljoen (R90 miljoen) gehad.

Suid-Afrika se Lee-Anne Pace het op 277 (-11) in die veertiende posisie geëindig.

Irwin se rekord geëwenaar

In die Amerikaanse reeks vir senior spelers het die 65-jarige Bernhard Langer Sondag Hale Irwin se rekord van 45 toernooi-oorwinnings geëwenaar toe die Duitser die Chubb Classic in Naples in Florida gewen het.

Langer het met ’n telling van 199 (-17) geseëvier.

Suid-Afrika se Ernie Els het op 207 (-9) in die tiende posisie geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.