Reën in Sonstad kelder gholf

Die Gary Player Country Club in Sun City vanuit die lug. (Foto: ANA)

Deurdringende reën het Vrydag die laaste sê in die Nedbank-uitdaagtoernooi gehad.

Nie een van die altesaam 66 spelers kon hul tweede rondes voltooi nie en toe spel omstreeks 15:30 afgelas is, het die voorlopers net drie putjies gespeel.

Die spelers sou Saterdagoggend om 07:45 na die baan teruggekeer het om voort te speel. Die weervooruitsigte vir die naweek lyk egter nie goed nie en die organiseerders van die 40ste Nedbank-toernooi sal ’n haas uit die hoed moet ruk om die Sonstad‑skouspel op skedule te voltooi.

Die spel is omstreeks 11:50 weens dreigende donderweer afgelas. Sowat vier ure later is spel afgelas omdat die Gary Player-baan se skoonvelde deurdrenk was en daar te veel water oral op die baan was om suksesvol voort te speel.

Toe spel afgelas is, was die Nieu-Seelander Ryan Fox en die Engelsman Luke Donald op ’n totaal van agt houe minder as syfer die gesamentlike voorlopers.

Donald, wat die dag op -7 begin het, het ’n voëltjie vier by die tweede behaal om op die voorlopersbord op te skuif.

Fox het drie uiters onbestendige putjies beleef.

Ryan Fox (Foto: Christian Kolbert/AFP)

Hy het sy eerste bofhou van die dag bitter ver regs geslaan en moes sy naderhou van byna die negende skoonveld slaan, maar hy het daarin geslaan om syfer aan te teken.

By die tweede putjie het die bonkige Nieu-Seelander ’n goeie voëltjie vier aangeteken, net om sy bofhou by die derde met ’n yster regs in die strafgebied te slaan. Hy het goed gedoen om net een hou aan syfer af te staan voordat die sirene geblaas het om ’n einde aan die dag se spel te bring.

Twee spelers wat hulle nie deur Vrydag se gure weer van stryk laat bring het nie, was die Brit Ross Fisher en Gavin Green van Maleisië.

Fisher het voëltjies by die eerste, tweede en negende aangeteken, waarna ’n puik arend drie by die tiende hom op -6 in die gesamentlike derde posisie op die voorlopersbord laat pryk het.

Green was ook op -6 toe hulle die baan moes verlaat. Die groot Maleisiër het voëltjies by die tweede, derde, sesde, tiende en elfde putjies aangeteken om ongehinderd ’n opmars na die titel te maak.

Van die Suid-Afrikaners was Richard Sterne op -2 die beste geplaas. Hy het elf putjies gespeel voordat die gure weersomstandighede die spelers van die baan gedwing het.

Sodra die spelers die tweede ronde voltooi, sal die derde ronde ná ’n blaaskans van dertig minute begin.

Volgens die toernooi-direkteur, David Williams, moet die toernooi Sondag voltooi word en kan daar nie Maandag gespeel word nie.

Die rede hiervoor is dat daar nie plek op vlugte is vir die spelers om Maandagaand na Dubai te reis vir die DP World Tour-kampioenskap, wat die seisoen se laaste toernooi is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.