Rory pleit vir gholfvrede voor aanslag op Meesterskroon

Die Noord-Ierse gholfster Rory McIlroy pleit die afgelope tyd omtrent vir vrede tussen die PGA- en LIV-reeks. (Foto: Alberto Pizzoli/AFP)

Die Noord-Ierse gholfster Rory McIlroy pleit die afgelope tyd omtrent vir vrede tussen die PGA- en LIV-reeks.

En die spel se naasbeste speler (volgens die jongste wêreldranglys) sê gholf moet sy vlerke behoorlik sprei. McIlroy glo ʼn ware wêreldreeks wat verskeie nasionale Ope en die vier Majors insluit, is die roete wat gevolg moet word in die strewe om die heel beste spelers weer op dieselfde verhoog in aksie te sien.

Onder die nasionale Ope-toernooie wat McIlroy by só ʼn nuwe wêreldreeks van sowat 22 toernooie vir die spel se top 70 spelers sou wou insluit, is ook die SA Ope. Dit is naas die Britse Ope die oudste Ope-toernooi ter wêreld en is in 1903 die eerste keer aangebied.

Die Ierse, Skotse, Kanadese en Australiese Ope is ook volgens McIlroy op sy lys wat deel moet wees van ʼn wêreldprogram wat moet kyk om ook lande en gebiede soos Japan, Singapoer en Hongkong te betrek.

“Daar is soveel onontginde markte wat betrek moet word om die spel waarlik te laat groei.

“Dit is tyd vir vrede tussen die PGA- en LIV-reeks en die pad vorentoe is ʼn ware wêreldreeks waar die top 70 of dalk top 100 spelers in sowat 22 toernooie oor die hele wêreld speel.

“Die 22 toernooie sal die vier Majors en vier of vyf gesogte Ope insluit, met die res van die toernooie in Amerika.

“Korporatiewe Amerika en die Saoedi-Arabiese openbare beleggingsfonds (PIF) moet albei betrek word om die spel te ontwikkel.

“Die PGA-reeks se inkomste is tans $2,3 miljard (sowat R43 miljard) per jaar. Dit moet opgeskuif word tot tussen $4 miljard en $6 miljard en die enigste manier om dit te doen, is om nuwe markte van oor die wêreld te ontgin,” sê McIlroy.

Die 34-jarige viermalige Majorkampioen begin vandeesweek sy nuwe seisoen met sy verskyning in die Dubai-uitnodigingstoernooi, wat Donderdag op die Dubai Creek-baan begin.

Aanstaande week verdedig McIlroy sy Desert Classic-titel wat beteken dat hy twee weke in die Midde-Ooste sal tuisgaan.

“Ek hou van Dubai en het vier jaar hier gewoon voordat ek getroud is.

“Twee weke in Dubai is die perfekte slypkans vir ʼn nuwe seisoen wat hopelik suksesvol sal wees,” sê McIlroy wie se gholfarsenaal vandeesweek ʼn nuwe bofhout, ʼn nuwe drie-hout, ʼn nuwe vyf-hout en ʼn nuwe setyster insluit.

Die boorling van Holywood naby Belfast in Noord-Ierland het vanjaar ook ander planne wat hy hoop aan hom ʼn Amerikaanse Meesterstitel sal verseker.

“My kop is skoon en ek kan deesdae helder dink en op gholf fokus en nie op al die politiek wat die spel kniehalter nie. Daarom het ek my voorbereidingsprogram vir die Meesters verander. Augusta sal vanjaar my negende of tiende toernooi wees waar dit in die verlede die sesde of sewende was.

“Dus sal ek hopelik in April skerper wees wanneer die Meesters gespeel word. Ek wil beslis ʼn groen wennersbaadjie in my kas hê en wíl dit wen en verdien. Dis my doelwit vanjaar,” sê McIlroy.

Hy sal met ʼn sege op Augusta slegs die sesde speler word wat al vier Majortitels kon wen. Die laaste speler wat dit reggekry het, was Tiger Woods in 2000. Voor dit het Gene Sarazen (1935), Ben Hogan (1953), Gary Player (1964) en Jack Nicklaus (1966) die sogenaamde Grand Slam vermag.

Die Dubai-uitnodigingstoernooi is die eerste van vyf agtereenvolgende toernooie in die DP World-reeks wat in die Midde-Ooste beslis word. Die Europese reeks keer einde aanstaande maand terug na Afrika vir die Kenia-Ope in Nairobi en twee toernooie daarna in Maart in Suid-Afrika.

  • Bykomende inligting: Golf Digest

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.