Scheffler neem mantel by McIlroy oor

Scottie Scheffler. (Foto: Carmen Mandato/Getty images/AFP)

Die 26-jarige Amerikaanse gholfspeler het die gholflandskap binne twee jaar ʼn tweede keer verander.

Scheffler het vroeg Maandagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) in Scottsdale, Arizona, die Noord-Ier Rory McIlroy onttroon as die wêreld se voorste speler nadat hy die Phoenix-Ope-titel met welslae verdedig het.

Scheffler het slegs die sewende speler geword wat dit vermag het nadat hy die vierde rondte in 65 houe (-6) voltooi het om twee houe (265, -19) voor die Kanadees Nick Taylor (267, -17) te eindig.

Die Spanjaard Jon Rahm, wat ook in die wedloop was om McIlroy te ontspoor, was derde (270, -15) gevolg deur die Amerikaner Justin Thomas (271, -13) en die Aussie Jason Day (272, -12).

McIlroy het 32ste op 280 (-4) geëindig.

Suid-Afrika se Dylan Frittelli wat 70 houe in die vierde rondte aangeteken het, was saam 14de op 276 (-8) met sy landgenoot Erik van Rooyen op 283 (-1).

Scheffler het met die eerste prysgeld van 3,6 miljoen Amerikaanse dollar (bykans R64,6 miljoen) weggestap.

Hy het verlede jaar vir Patrick Cantlay in ʼn uitspeelstryd geklop om sy eerste toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks te wen. Hy het dit opgevolg met oorwinnings in die Arnold Palmer-uitdaagtoernooi, die WGC-putjiespeltoernooi en die Amerikaanse Meesters om die jaar as PGA se voorste speler af te sluit.

Hy stap nou in die voetspore van legendes soos Ben Hogan (1946-47), Jimmy Demaret (1949-’50), Lloyd Mangrum (1952-’53), Arnold Palmer (drie opeenvolgende oorwinnings in 1961-’63), Johnny Miller (1974-’75) en Hideki Matsuyama (2016-’17) wat die Phoenix-Ope ʼn agtereenvolgende keer kon wen.

Scheffler se oorwinning in Arizona is slegs sy vyfde in die PGA-reeks en sy eerste sege sedert hy in Augustus verlede jaar laas gewen het­­.

Scheffler was voorheen vir 30 weke bo-aan die ranglys.

 

Bron: The Golf Channel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.