Scottie span steeds die kroon

(Foto: Michael Reaves/Getty Images via AFP)

Die gewilde Amerikaner Scottie Scheffler is verlede week nie om dowe neute nie ʼn tweede opeenvolgende keer as die Amerikaanse PGA se speler van die jaar vir 2023 aangewys.

Om te bewys hoekom hy die eerbewys dubbel en dwars verdien het, het die wêreld se voorste speler op die gholfranglys opnuut sy vernuf uitgestal in die tweede ronde van die Sentry-gholftoernooi van kampioene wat in Kapalua in Hawaii beslis word.

Scheffler het Vrydagaand (SA tyd) agt voëltjies en ʼn arend aangeteken om met 64 houe in die eerste toernooi in vanjaar se reeks in die klubhuis te eindig.

Scheffler het op 130 houe (-16) geëindig en was een hou voor die Engelsman Tyrrell Hatton, Brendon Todd van Amerika en Sungjae Im van Suid-Korea (almal 131).

Hulle word deur Viktor Hovland (Noorweë) gevolg wat saam met die Amerikaners Collin Morika en Chris Kirk en Byeong Yn (Suid-Korea) saam vyfde op 132 houe is.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen het hom in die tweede ronde ook reggeruk toe hy 65 houe kon aanteken nadat hy 72 houe in die eerste ronde aangeteken het.

Sy ronde was foutloos en het agt voëltjies ingesluit.

Van Rooyen het op 137 houe in die klubhuis geëindig en is nege houe onder baansyfer. Hy is saam met Nico Echavarria (Colombia) en die Amerikaners Luke List, Sam Burns, Rickie Fowler, Lee Hodges en Harris English in die 32ste posisie.

Hatton se merkwaardige ronde van 62 (sy laagste nog in sy beroepsloopbaan) het die vurige Engelsman se humeur darem ʼn bietjie beteuel.

Dit het hom 25 uur geneem om van Londen af in Hawaii uit te kom. Dit het ʼn oorstaantyd van drie uur weens meganiese probleme in Los Angeles ingesluit en hy moes ook onvoorsiens vlugte ruil.

Hatton het die kroon op die 18de putjie gespan toe hy ʼn baie lang arend-sethou van byna 35 m ingerol het.

Die toernooi is voorheen beslis deur spelers wat die vorige jaar aan die wenkant was, maar is vanjaar uitgebrei om die top 50 spelers in die FedExCup in te sluit.

Die gemiddelde telling Vrydag was 67.4 houe en nie een van die 59 spelers wat daaraan deelneem, het swakker as baansyfer gevaar nie.

Bron: The Golf Channel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.