Senekal klou vas by Zebula

gholf-gras-bal-pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: HeungSoon/Pixabay)

JJ Senekal (-18) se setstok is dalk koud, maar hy klou steeds vas aan ʼn voorsprong van twee houe by die SDC-ope op die baan van die Zebula-gholflandgoed in Limpopo. Die speler van die Stellenbosch-gholfklub loop reeds van die eerste rondte af voor.

Hy het gister sy derde rondte in 69 houe voltooi. Dit het vier voëltjies en ʼn brouhou ingesluit. Sy naaste teenstander is nog ʼn Suid-Afrikaner, Casey Jarvis (-16). As dit nie was vir brouhoue op die 16de en die 18de nie, kon Jarvis saam met Senekal voorgeloop het. Hy het sy derde rondte in 66 houe voltooi en ses voëltjies aangeteken. Hy kan homself skop nadat hy op die 15de putjie ʼn arend aangeteken het, net om op die 16de in die reën ʼn hou aan syfer af te staan.

Senekal het na sy rondte gesê dit was nie die beste rondte wat hy al ooit gespeel het nie. Van die bof tot die setperk het sake goed verloop, maar hy was gefrustreerd deur die 32 sethoue wat hy moes slaan. Hy sê sy lees van die setperke was nie goed nie en sy setstok wou net nie vir hom werk nie.

Jaco Prinsloo (-15) en Martin Vorster (-15) is drie houe agter Senekal.

In die Genesis-uitnodigingstoernooi op die Amerikaanse PGA-toer het die Spanjaard Jon Rahm (-15) stof in die oë van die res van die spelers geskop. Hy het by die Riviera-buiteklub in Kalifornië sy derde rondte in 66 houe voltooi vir ʼn voorsprong van drie houe. Sy rondte het ses voëltjies ingesluit en nie ʼn enkele brouhou nie. Die Amerikaners Max Homa (-12) en Keith Mitchell (-11) is onderskeidelik in die tweede en derde plek.

Rory McIlroy (-4) is in die gesamentlike 18de plek nadat hy sy derde rondte in 73 houe voltooi het. Tiger Woods (-3) het die tuisskare laat brul met ʼn 67 in sy derde rondte. Dit het ʼn arend op die tiende putjie ingesluit. Dit is Woods se eerste toernooi terug op die Amerikaanse PGA-toer nadat hy lank beseer was.

Die enigste Suid-Afrikaner in die toernooi, Christiaan Bezuidenhout (+1), is in die gesamentlik 63ste plek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.