Sterkste veld nog dié seisoen by Dunhill-kampioenskap

Suid-Afrika se Dean Burmester het die laaste twee weke spel van die hoogste standaard opgedis en sal hoop dat sy goeie spelpeil voortduur in sy strewe na ʼn derde agtereenvolgende oorwinning. (Foto: Eakin Howard/Getty Images/AFP)

Kan Dean Burmester dit drie in ’n ry maak?

Dit is die vraag op gholfliefhebbers se lippe op die vooraand van die Alfred Dunhill-kampioenskap op Leopard Creek buite Malelane.

Die gesogte Dunhill-stryd begin Donderdag en is die derde agtereenvolgende toernooi wat deur die Sonskynreeks in oorleg met die DP World-reeks aangebied word.

Die Malelane-skouspel beloof om soos altyd ʼn strawwe uitdaging van die begin tot die einde vir al die deelnemers te wees.

Menige speler se wendrome het in die verlede byvoorbeeld ʼn waterdood op die laaste putjie van dié Gary Player-uitleg gesterf net toe hulle gedink het hulle het alles onder beheer.

Die groot titelaanspraakmakers soos Burmester sal hoop dat die baan wat neffens die Krokodilrivier lê, vandeesweek getem kan word in die verwagte hittegolf wat die omgewing gaan tref.

Burmester het die laaste twee weke spel van die hoogste standaard op Houghton en Blair Atholl opgedis en hy sal hoop dat sy goeie spelpeil voortduur in sy strewe na ʼn derde agtereenvolgende oorwinning.

Die Alfred Dunhill-titel sal die kersie op die koek wees deurdat dit die rykste plaaslike toernooi is. Die totale pryspot beloop meer as R30 miljoen waarvan die wenner meer as R5 miljoen in sy sak sal steek.

Die meeste van die Sonskynreeks-volgelinge se oë sal straks op Burmester en sy driekunsveldtog gerig wees, maar die verskyning van Brendan Grace en Louis Oosthuizen behoort ook groot belangstelling te lok.

Dit is Grace en Oosthuizen se eerste verskynings in die nuwe seisoen en beteken dat al vier lede van die LIV-reeks se Stingerspan vandeesweek in die Alfred Dunhill-toernooi gesien kan word.

Maak nie saak wat gesê word nie, die vier LIV-spelers is almal steeds van die land se heel beste spelers ongeag waar hulle meeding. En dit het Burmester baie duidelik die laaste twee weke bewys.

Grace het in 2014 op Leopard Creek geseëvier met net Oosthuizen en Burmester wat nog nie hierdie gesogte wennerstrofee omhoog kon hou nie.

Charl Schwartzel is natuurlik die res van sy LIV-spanmaats ver voor met vier oorwinnings op Leopard Creek. Schwartzel het die eerste toernooi in 2004 gewen en ook in 2012, 2013 en 2015 boaan die voorlopersbord klaargemaak.

Hy is ʼn trotse Leopard Creek-spesialis wat altyd van sy beste spel opdis al is hy van stryk af.

Aanhangers van Schwartzel sal duim vashou dat hy van Donderdag af die horlosie terugdraai na daardie uiters suksesvolle tydperk ʼn dekade of wat gelede toe hy wêreldgholf aan sy voete gehad het.

Afgesien van die vier LIV-spelers is byna al die top‑ SA spelers vandeesweek in aksie.

Ockie Strydom is terug om sy deurbraaktitel te verdedig en ʼn derde Europese toernooi-oorwinning te beklink, met Thriston Lawrence wat sal wil vergoed vir wat vir hom twee teleurstellende vertonings in die Joburg- en SA Ope-toernooie was.

Dan is daar manne soos Zander Lombard, Danie van Tonder, Louis de Jager, Darren Fichardt, Wilco Nienaber, Shaun Norris, Hennie Otto, Jaco van Zyl, Martin Vorster, Brandon Stone, Casey Jarvis, Jayden Schaper en die land se PGA-ster Erik van Rooyen wat enige dag stof in die oë van hul teenstanders kan skop.

Die Leopard Creek-buiteklub. (Foto: Sunshine Tour/X)

Dit is fantasties om Van Rooyen terug in die land te hê en die boorling van Bellville sal oorgehaal wees om sy talente uit te stal na sy onlangse sege in Amerika. Hy is ʼn ware topspeler wat hard werk om sukses te behaal en kry nie die nodige erkenning in sy geboorteland nie. Hy kan alles vandeesweek met ʼn sprankelvertoning regstel.

Wat die Europese aanslag op die Alfred Dunhill-titel betref, is daar talle spelers wat maklik kan seëvier indien hulle op alle silinders vuur. Die Italianer Guido Migliozzi is een van hulle, met sy landgenoot Edoardo Molinari wat stadig maar seker weer die spelpeil herwin wat hom ʼn Ryderbekerspeler gemaak het, wat ook weet wat dit verg om as ʼn kampioen gekroon te word.

Andy Sullivan, Renato Paratore, Dale Whitnell, Ewen Ferguson, Matteo Manassero, Ross Fisher, Nick Bachem, Jesper Svensson, Antoine Rozner, Jamie Donaldson en Scott Jamieson is enkele van die Europese sterre wat dopgehou sal moet word.

Jamieson was verlede jaar sterk in die wedloop voordat hy in die pylvak uitgesak en die knie voor Strydom gebuig het. Hy hou die Leopard Creek-baanrekord van 63, so die baan pas hom uiteraard.

Dit is die sterkste veld van die seisoen wat vandeesweek bymekaar is en ʼn liplekkerstryd om die titel is gewis op die kaarte.

Die eerste spelers slaan Donderdagoggend om 06:20 af en tot Sondag sal die SA sakemagnaat Johann Rupert se eksklusiewe Leopard Creek die speelplek wees van altesame 156 internasionale beroepsgholfspelers met groot drome van wêreldroem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.