Stewige vertonings deur Christiaan, Paula

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout beklee die gesamentlike 13de posisie ná die eerste ronde van die Valspar-kampioenskap. (Foto: Kevin C. Cox/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se gholfsterre Christiaan Bezuidenhout en Paula Reto het albei Donderdag stewige vertonings in die VSA gelewer.

Bezuidenhout beklee die gesamentlike 13de posisie ná die eerste ronde van die Valspar-kampioenskap nadat hy ʼn telling van 69 houe (-2) op die Copperhead-gholfbaan in Palm Harbor in Florida op sy telkaart ingevul het.

Reto het ook met ʼn telling van 69 (-2) weggespring in die Fir Hills Seri Pak-kampioenskap, wat op die Palas Verdas-baan in Los Angeles beslis word. Sy lê saam 14de ná die eerste dag se spel.

*Die veteraan Kevin Streelman het in die Valspar-kampioenskap gewys hy is dalk oud (in gholfjare), maar beslis nog lank nie koud nie. Die 45-jarige Yank het met ʼn telling van 64 (-7) hakskene vir sy jonger teenstanders gewys om die voortou in Palm Harbor te neem.

Dit was die tweemalige PGA-toernooiwenner se vuurwarm setwerk wat hom boaan die voorlopersbord laat eindig het. Hy het net 24 sethoue oor die 18 putjies nodig gehad en het in die middel van sy ronde tien keer agtereenvolgens net een sethou per putjie nodig gehad om die balletjie in die blikkie te kry.

Streelman word op -6 gejaag deur Kevin Roy, ʼn Korn Ferry-speler wat sy spesiale uitnodiging om aan die toernooi deel te neem met albei hande aangegryp het.

Die Sweed Adam Svensson, Yechun Yuan van China en Peter Molnati van Amerika deel op -5 die derde posisie.

Bezuidenhout is die enigste Suid-Afrikaanse speler wat vandeesweek in die PGA-reeks in aksie is.

Hy het op die tiende bof afgeslaan en drie voëltjies oor die eerste ses putjies aangeteken, maar daarna momentum verloor en uiteindelik die dag op -2 afgesluit. Hy is egter steeds in ʼn stewige posisie met sy goeie spelpeil hierdie seisoen wat duidelik voortduur.

*Waar Reto soos Bezuidenhout goed weggespring het, het Suid-Afrika se voorste vrouespeler, Ashleigh Buhai, ʼn wisselvallige en teleurstellende vertoning in Los Angeles gelewer.

Die eenmalige Major-kampioen was in die 62ste posisie ná ʼn telling van 72 (+1) wat twee voëltjies en drie brouhoue ingesluit het. Sy sal Vrydag moet uithaal indien sy die valbyl wil vryspring.

Reto aan die ander kant sal verheug wees dat sy onder die top-20 tel.

Sy is stadig besig om weer haar beste spelpeil te herwin en het Donderdag slegs 28 sethoue nodig gehad nadat sy 13 van die 18 setperke in regulasie gehaal het. Haar bofhoue sal egter moet verbeter indien sy sukses wil smaak. Sy het op die eerste dag slegs ses van die 14 skoonvelde raakgeslaan.

*In Singapoer was Thriston Lawrence op -4 die beste geplaas van die Suid-Afrikaanse deelnemers ná die eerste ronde van die Singapore Classic.

Ockie Strydom (-3) en Zander Lombard, Casey Jarvis en Jayden Schaper, wat al drie op -2 klaargemaak het, lê almal onder die top-50.

  • Bykomende inligting: PGA Tour, LPGA Tour, DP World Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.