Tiger sê ‘nee’ vir omstrede LIV-reeks

Tiger Woods op St. Andrews in Skotland. (Foto: Paul Ellis/AFP)

Die Amerikaanse gholfster Davis Love III het hom sterk uitgespreek teen die omstrede LIV-reeks en ’n boikot voorgestel wat dié rebelle-reeks in sy spore kan stuit.

Die 58-jarige Amerikaanse PGA-kampioen van 1997 is die kaptein van die VSA se Presidentsbekerspan wat aanstaande maand in Charlotte in Noord-Carolina met die Internasionale span onder leiding van die Suid-Afrikaner Trevor Immelman kragte meet.

Love III se uitlatings volg op die nuus dat Tiger Woods ’n asembenewende aanbod van tussen $700 en $800 miljoen (tussen nagenoeg R11,5 en R13,2 miljard) van die hand gewys het om die PGA-toer die rug te keer en hom by LIV, die nuwe Saoedi-Arabiese gefinansierde reeks, aan te sluit.

Greg Norman, LIV se uitvoerende hoof en die man aan die spits van die pogings om bekende spelers van die PGA-toer af te rokkel, het vandeesweek aan die mediamaatskappy Fox bevestig dat Woods die reuse-aanbod van die hand gewys het.

Hy wou niks sê oor die beweerde aanbod van $500 miljoen (R8,25 miljard) aan die Ier Rory McIlroy nie.

“Tiger is die grootste lokaas in wêreldsport en ’n mens moet altyd die beste van die bestes oorweeg indien jy suksesvol wil wees,” het die Aussie oor die aanbod aan Woods gesê.

Woods het verlede maand tydens die Britse Ope op St. Andrews na Norman gekap en gesê die Aussie het dinge gedoen wat nie in die beste belang van gholf is nie.

“Die LIV-reeks is gewaarborgde geld. Wat is die aansporing vir enigiemand om enigsins te oefen?” het Woods gesê. Die 15-malige Major-kampioen het nie gesê dat hy ʼn groot bedrag deur die LIV-organiseerders aangebied is en dit van die hand gewys het nie.

Rory McIlroy in 2018 tydens die derde ronde van die Wells Fargo Kampioenskap-gholftoernooi. (Foto: Chuck Burton/AP)

Intussen blyk ’n hofsaak onafwendbaar te wees tussen die LIV-reeks en PGA-toer.

Die PGA-toer het sy lede geskors wat in die eerste drie LIV-toernooie gespeel het en dié spelers kan ook nie in die komende Presidentsbeker-toernooi speel nie.

“Regsaksie lyk na ’n uitgemaakte saak tussen die twee kampe. ’n Beter plan om die LIV-reeks te keer, is egter ’n boikot. Indien die top-150 spelers en ’n paar van die ouer garde spelers saamstaan om byvoorbeeld te sê hulle speel nie in die Amerikaanse Ope indien die LIV-spelers toegelaat word om mee te ding, dan het jy nie ’n Ope nie.  Eenvoudig soos dit,” het Love III gesê.

*Die Amerikaanse Toer het dié week aangekondig dat totale prysgeld van $429 miljoen (sowat R7,7 miljard) op die spel sal wees in die 2022/’23-seisoen, wat aanstaande maand afskop.

Dit is sowat $70 miljoen (bykans R1,15 miljard) meer as die huidige seisoen.

Agt toernooie sal prysgeld van tussen $15 en $25 miljoen (sowat R247 miljoen en R412 miljoen) hê.

’n Reeks toernooie vir die top-50 spelers gaan ook aan die einde van die seisoen aangebied word. Dít is skynbaar om regstreeks met die LIV-reeks mee te ding en die deelnemende spelers sal ook prysgeld gewaarborg wees. Meer besonderhede is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael ·

Het die PGA nou die alleenreg op gholf? Wat gee een groep die reg om almal wie nie doen wat hulle wil doen nie te verbied om sekere dinge te doen nie. Dit wil voorkom of die smagting van regerings wereldwyd om diktatorskappe te vestig oorgespoel het na die res van die samelewing-almal wil almal onderwerp aan hul mag en gesag. Mense het die fundamentele reg om te besluit wat hulle wil doen solank dit geen ander mens skade doen of leed aan doen nie. Los die spelers uit dat hulle speel waar hulle wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.