Välimäki bo in Katar ná uitspeelstryd

Die Finse gholfspeler Sami Välimäki. (Foto: DP World Tour/X)

Die Finse gholfspeler Sami Välimäki het in Doha, Katar, senuwees van staal gewys in die vierde en laaste ronde van die Katar-meesterstoernooi toe hy die Spanjaard Jorge Campillo in ʼn uitspeelstryd geklop het.

Välimäki en Campillo was saam eerste op 270 houe (-18), met die Skot Scott Jamieson en nog ʼn Spanjaard Ignacio Elvira saam derde op 272 (-16).

Campillo was tot op die 17de putjie van die laaste ronde voor voordat Välimäki met ʼn lang voëltjie-sethou hom ingehaal het.

Välimäki het sake op die eerste uitspeelputjie met nóg ʼn voëltjie beklink om sy tweede Europese titel te wen.

Jordan Smith van Engeland was vyfde op 273 (-15) met Thomas Aiken wat die beste van die Suid-Afrikaners gevaar het op 276 (-12).

Aiken het saam in die 12de posisie klaargemaak.

Van die ander Suid-Afrikaners het Zander Lombard (279, -9), Jayden Schaper en Thriston Lawrence (albei 281), Daniel van Tonder (283), Hennie du Plessis (285) en Deon Germishuys (286) ook skaflik gevaar in dié toernooi in die Europese reeks en Road to Dubai.

Die toernooi se prysgeld was meer as R70 miljoen en Välimäki het R11,9 miljoen met sy oorwinning verdien.

Aiken het R1,03 miljoen met sy 12de plek losgespeel.

Vir Jamieson was die toernooi ʼn hoogtepunt, want hy Donderdag in die 119ste posisie in die Road to Dubai-wedloop afgeslaan.

Die 39-jarige Jamieson het met sy derde plek, nadat hy 69 houe in die laaste ronde aangeteken het, tot 82ste opgeskuif en dus sy spelersregte vir aanstaande seisoen behou.

* In Kuala Lumpur het die Franse speler Celine Boutier en Atthaya Thitikul van Thailand byna die rekordboeke vir vrouegholf herskryf toe hulle in die tweede langste uitspeelstryd nog in die LPGA-reeks betrokke was.

Albei spelers het in die Maybank-gholfkampioenskap op 282 houe (-21) saam eerste geëindig, maar Boutier kon eers ná nege uitspeelputjies haar vierde toernooi van die jaar en haar sesde loopbaantitel wen.

Die rekord vir die langste uitspeelstryd (10 putjies) is in 1972 tydens die Corpus Christi Civitan-toernooi opgestel.

Wat Boutier-hulle se uitspeelstryd dramaties gemaak het, was dat hulle tweestryd weens reën vir 90 minute onderbreek is en dat hulle in skemerdonkerte geëindig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.