Vroue maak geskiedenis op Muirfield

Die Sweed Anna Nordqvist gedurende KPMG se Vroue PGA-kampioenskap (Foto: Rob Carr / Getty Images via AFP)

Die room van wêreldgholf se vrouesterre betree vandeesweek die eerste keer in die geskiedenis die bastion van mansgholf wanneer die Britse Ope-kampioenskap op Muirfield in Skotland beslis word.

Altesame elf voormalige Ope-kampioene is in die uitgelese veld van 144 spelers wat van Donderdag by die wêreld se oudste klub sake uitspook in die jaar se laaste Major-toernooi.

ʼn Rekordbedrag prysgeld van $6,8 miljoen (sowat R112 miljoen) is op die spel op die magiese Muirfield-baan wat vir die sewentiende keer sedert 1892 en die eerste keer sedert 2013 weer gasheer speel vir enige van gholf se Major-kampioenskappe.

Die omstrede Phil Mickelson, wat hom onlangs vir miljarde rand by die LIV-reeks aangesluit het, was die laaste Major-kampioen wat Muirfield opgelewer het voordat die klub van die aanbieding van groot toernooie ontneem is omdat hy nie vroue as lede van die klub wou toelaat nie.

Muirfield is ’n private klub en ná ’n onsuksesvolle poging in 2016 het 80% van die klub se lede die volgende jaar uiteindelik ja gestem om vroue as gelykes in die klub toe te laat. Dit het egter twee jaar, tot aan die einde van 2019, geneem voordat twaalf vroue die eerste keer as lede aanvaar is. Tans het Muirfield twintig vroue-lede.

Verlede jaar se Ope-kampioen, die Sweed Anna Nordqvist, sal vandeesweek op haar allerbeste moet wees indien sy haar titel suksesvol wil verdedig.

Sy sal egter swoeg teen teenstanders soos onder andere haar landgenoot Linn Grant, Nieu-Seeland se Lydia Ko, Suid-Korea se Jin-young Ko en In-gee Chun, Brooke Henderson van Kanada, Minjee Lee van Australië, Ayaka Furue van Japan, die Korda-susters Jessica en Nelly, asook hul Amerikaanse landgenote Jennifer Kupcho en Lexi Thompson.

Almal is toernooi-wenners en afgesien van Jessica Korda, Grant en Furue is die ander ook Major-kampioene wat weet wat dit verg om op die grootste verhoog suksesvol te wees.

Vier Suid-Afrikaners, Casandra Alexander, Ashleigh Buhai, Lee-Ann Pace en Paula Reto sal ook drome van Major-glorie nastreef, maar al vier het verlede week in die Skotse Ope klei getrap en sal hul spelpeil drasties moet verbeter indien hulle sukses wil behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.