Vrouegholf: Buhai sal moet uithaal indien sy titel wil behou

Ashleigh Buhai. (Foto: Katelyn Mulcahy/Getty Images via AFP)

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai het ’n berg om te klim as sy haar Britse Ope-titel suksesvol wil verdedig.

Die Johannesburgse gholfster het in Donderdag se eerste ronde van die jaar se laaste majortoernooi ’n stotterende vertoning gelewer en uiteindelik die dag ses houe agter die voorloper afgesluit na sy ’n telling van 74 – twee houe meer as die baansyfer – op haar telkaart ingevul het.

Die speeltoestande op die Walton Heath-baan in Surrey in Engeland was byna ideaal met slegs ’n ligte windjie wat die hele dag gewaai het.

Die moeilike golwende setperke het egter die deelnemers hoofbrekens besorg. So ook die pers heide-bossies, wat ’n kenmerk van die baan is en enige skewe bofhoue kwaai straf.

Die 34-jarige Buhai se veldtog om nog ’n major-kroon agter haar naam te skryf, het vroeg ontspoor deurdat sy by die derde putjie ’n hou aan syfer afgestaan het en by die volgende putjie ’n dubbele brouhou op haar telkaart ingevul het.

Sy het daarna die res van haar eerste agttien putjies in een hou minder as syfer voltooi, maar die skade was gedoen en daar was geen huppel in Buhai se stap te bespeur soos twaalf maande gelede op Muirfield toe sy haar eerste grote ingepalm het nie.

Die verdedigende kampioen kon slegs agt skoonvelde raakslaan en het 31 sethoue op die dag gehad.

Dit is nie goed genoeg om te seëvier nie en ’n allemintige taak wag op Buhai as sy Sondag weer die Ope-trofee omhoog wil lig.

Die Amerikaner Ally Ewing het die eerste dag in die voortou afgesluit na ’n goeie telling van 68  (-4) op ’n baan wat ’n strawwe maar regverdige toets is.

Ewing het in die middag gespeel toe die wind ’n klein bietjie harder as in die oggend geblaas het.

Die hoogtepunt van die Yank se vertoning was die arend drie wat sy op die sestiende putjie aangeteken het om haar neus voor te kry.

’n Groep van vyf spelers, onder wie Jeongeun Lee tel, is op 69 in die gesamentlike tweede posisie, met altesame twaalf spelers wat op ’n telling van 70 die sewende plek deel.

Onder die groep tel In Gee Chun van Korea, wat verlede jaar in ’n uitspeelstryd teen Buhai verloor het, asook Allisen Corpuz, die Amerikaanse Ope-kampioen.

Die LPGA-reeks se nuwe sensasie, Rose Zhang, is stewig geplaas na ’n ronde van 72.

So ook die major-kampioen Lilia Vu en die Sweedse sterre Anna Nordqvist en Maja Stark.

Die wêreld se twee voorste spelers, Nelly Korda en Jin Young Ko, het albei tellings van 73 (+1) aangeteken, met die gewese no. 1-spelers Lydia Ko en Thailand se Atthaya Thitikul wat soos Buhai met tellings van 74 tevrede moes wees.

Buhai se landgenote Paula Reto en Lee-Anne Pace bevind hulle ook in die groot groep wat almal 74’s (+2) gespeel het.

Reto was na dertien putjies nog een hou onder syfer, maar drie houe oor die laaste vyf putjies het haar vertoning ontsier.

Sy het soos Buhai net agt skoonvelde raakgeslaan en ook 31 sethoue nodig gehad om die balletjie op elke putjie in die blikkie te kry. Dis nie goed genoeg om die majorsukses te smaak nie.

Die drie SA spelers en groot kanonne wat almal oor die eerste agttien putjies 74 en meer houe gespeel het, sal nie in Vrydag se tweede ronde kan gly nie indien hulle die halfpadmerk-afsnypunt wil oorleef. Die merk staan tans op +2.

In wat ’n reuse-stap vorentoe is om vrouegholf se aansien te verhoog, het die Ope-organiseerders aangekondig dat die grote se totale pryspot tot $9 miljoen (meer as R170 miljoen) verhoog is.

Die wennerstjek beloop $1,35 miljoen (nagenoeg R25 miljoen).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.