Wêreldgholf: Jamie spoel sy mond uit oor LIV-reeks

Jamie Donaldson. (Foto: Glyn Kirk / AFP)

Die Walliese veteraan-gholfspeler Jamie Donaldson (46) sê hy kan verstaan waarom ouer spelers, wat in die skaduwee van hul loopbane staan, hul gewig by Greg Norman se omstrede LIV-gholfreeks ingooi.

Maar dit slaan hom dronk dat jonger spelers, wat nog wêreldwyd kan meeding en in die Majors en Ryderbekerreeks kan speel, hulle tot dié reeks verbind wat deur Saoedi-Arabië gefinansier word.

Donaldson, wat 163ste op die wêreldranglys is, droom steeds daarvan om in sy tweede Ryderbekerreeks te speel, want dit was die hoogtepunt van sy loobaan in 2014, hoewel spelers nie ʼn sent vir hul deelname ontvang het nie.

Donaldson se kommentaar het gevolg nadat Henrik Stenson van Swede vandeesweek as kaptein van die Europese Ryderbekerspan bedank het weens sy betrokkenheid by Norman se reeks.

* Intussen loop Paul Waring van Engeland (133, -11) met drie houe voor ná die tweede ronde van die Cazoo Classic (wat deel is van die Europese reeks) en by die Hillside-gholfklub in Merseyside in Engeland beslis word.

Die Skot Grant Forrest, die Sweed Jens Dantrop en Julien Guerrier van Frankryk is saam tweede (almal 135, -9), met die Nederlander Daan Huizing, Sami Valimaki van Finland, Callum Shinkwin en Garrick Porteous (albei Engeland) op 137 (-7).

Suid-Afrika se Richard Sterne is op 138 (-6), met Darren Fichardt (139, -5), JC Ritchie (142, -2) en Wilco Nienaber (143) in gelid, asook Oliver Bekker en Zander Lombard albei op 144, gelyk aan baansyfer.

* In Blaine, Minnesota, sukkel die meeste van die spelers wat verlede week nog by St. Andrews in Skotland in die Britse Ope gespeel het, om vlugvoosheid af te skud in die 3M-toernooi wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks.

Die Amerikaner Scott Piercy is met drie houe voor nadat hy in Vrydagaand (Suid-Afrikaanse tyd) se tweede ronde 65 houe in winderige toestande aangeteken het. Hy is op 129, 13 houe onder die baansyfer.

Emiliano Grillo (Argentinië) is tweede (132, -10), met die Engelsman Callum Tarren, wat 63 houe in die tweede ronde aangeteken het, derde op 134 houe (-8).

Hulle word gevolg deur die Amerikaners Tony Finau, Robert Streb, Tom Hoge en Doug Ghim, asook Sungjae Im van Korea (almal op 135, -7).

Suid-Afrika se Dawie van der Walt is 46ste op 142 houe, gelyk aan baansyfer.

* In die Britse Ope vir seniors wat by Gleneagles in Skotland gespeel word, is Suid-Afrika se Ernie Els en David Frost binne trefafstand ná die tweede ronde.

Darren Clarke van Noord-Ierland is voor (-8), gevolg deur Scott Parel van Amerika (-7) met agt spelers saam derde, wat Els-hulle, Jerry Kelly van Amerika, Bernard Langer (Duitsland) en Padraig Harrington (Ierland) insluit, wat almal op -5 is.

Retief Goosen en James Kingston (albei -1) het ook skaflik gevaar.

* In die Evian-kampioenskap vir vroue, wat as ʼn vyfde Major beskou word en by die Evian-gholfklub in Évian-les-Bains (Frankryk) beslis word, loop Brooke Henderson van Kanada (128, -14) met drie houe voor Nelly Korda van die VSA  (131, -11), gevolg deur die twee Koreane So-Yen Ruy en Sei-Young Ko (albei 133).

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (138, -4) is saam in die 22ste posisie.

Die algehele prysgeld beloop ʼn allemintige R75 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.