Woods betower aanhangers

Tiger Woods (Foto: Paul Faith / AFP)

Hy het vlinders in sy maag gehad en die hele dag net probeer om kalm te bly.

Só het die legendariese Tiger Woods gesê pas nadat hy die eerste ronde van die Genesis Ope-toernooi op Riviera in Los Angeles met ’n telling van 69 houe – twee houe minder as die baansyfer – voltooi het.

Dit was die 47-jarige Woods se eerste deelname in twee jaar aan ’n toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks en die eerste keer sedert Julie verlede jaar se Britse Ope op St. Andrews dat hy in ’n amptelike toernooi in aksie is.

“Ek het vandag nie baie opgekyk nie en moes seker die ondersteuners meer waardeer het. Maar ek het die hele tyd net probeer kalm bly en uitwerk wat ek moes doen want ek was lanklaas in hierdie posisie,” het die vyftienmalige Major-kampioen agterna volgens Reuters gesê.

Derduisende toeskouers het Donderdagmiddag na die Riviera-baan opgeruk om Woods se terugkeer na die baan dop te hou. Toe hy uiteindelik sy verskyning op die eerste bof gemaak het, is hy begroet met ʼn oorverdowende dreunsang van sy naam wat selfs sy speelmaats, die Major-kampioene Rory McIlroy en Justin Thomas, se oë laat rek het.

Woods het nie sy volgelinge teleurgestel nie deur die dag se spel met ’n voëltjie vier op die eerste putjie te begin.

Hy het egter ’n brouhou op die vierde aangeteken, waarna hy op die agtste sy tweede voëltjie van die dag aangeteken en heel op sy gemak voorgekom het, hoewel hy steeds hinkende pinkende gestap het.

Ná verlore houe by die tiende en twaalfde het dit gelyk asof Woods skielik sy woema verloor het en sy volgelinge het ietwat stiller geword.

Hy het egter die dag soos ’n ware kampioen afgesluit deur van die sestiende putjie af drie agtereenvolgende voëltjies op sy telkaart in te vul.

Woods is op 69 vyf houe agter die gesamentlike voorlopers Max Homa en Keith Mitchell, wat ná tellings van 64 een hou voor die Spanjaard Jon Rahm (65) klaargemaak het.

McIlroy (67) en Thomas (68) het albei hul speelmaat Woods getroef, maar hulle kan verseker wees dat hy in Vrydag se tweede ronde alles sal gee om die bordjies te verhang noudat die spinnerakke weggevee is.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout het 71 houe gespeel en Dylan Frittelli 72.

In Saoedi-Arabië is die Nieu-Seelander Lydia Ko en Thailand se Pajaree Anannarukarn die gesamentlike voorlopers ná die eerste ronde van die Aramco Internasionale vroue-toernooi in Jeddah.

Ko, die wêreld se no. 1-speler, en Anannarukarn het albei Donderdagoggend tellings van 64 houe – agt houe minder as die baansyfer –  op die Royal Greens-baan aangeteken voordat die wind in die middag sake vir die spelers bemoeilik het.

Die twee word gevolg deur Atthaya Thitikul van Thailand, Aditi Ashok van Indië en Jung Min Hong van Korea, wat al drie ook in die oggend gespeel en tellings van 65 aangeteken het.

Vyf Suid-Afrikaners is ook in die veld van die geldryke toernooi wat ’n pryspot van $5 miljoen het – die meeste in die Europese vroue-reeks.

Lee-Anne Pace (70) het die beste van dié vyftal vertoon, gevolg deur Ashleigh Buhai (71), Casandra Alexander en Nicole Garcia (albei 72) en Paula Reto (74).

Senekal is kookwater

Die Stellenbosser JJ Senekal het Donderdag kookwater gholf opgedis om met ’n telling van 62 houe – tien houe minder as die baansyfer – die voortou te neem ná die eerste ronde van die SDC Ope op die Zebula-gholfbaan buite Bela-Bela in Limpopo.

Die 35-jarige Bolander, wat verlede week op Fancourt sesde in die Dimension Data Pro-Am-toernooi geëindig het, het sewe voëltjies en twee arende aangeteken, met ’n enkele brouhou op die baan se derde putjie wat sy momentum tydelik gestuit het.

Senekal word gejaag deur die 21-jarige Martin Vorster, wat agt voëltjies en ’n arend aangeteken het, maar ook ’n dubbele brouhou by die baan se dertiende putjie onderweg na ’n telling van 64.

Drie spelers, die Suid-Afrikaner Herman Loubser en die twee Spanjaarde Victor Garcia Broto en Victor Pastor, deel op 65 die derde plek.

SA’ner voor by Kaapse Ope

Die Suid-Afrikaner Kiera Floyd, die Spanjaard Mireia Prat en Hayley Davis van Engeland is die gesamentlike voorlopers ná die tweede ronde van die Kaapstad‑Ope op Atlantic Beach buite Melkbosstrand.

Hulle gee op +11 die pas aan nadat die altesame 87 deelnemers Woensdag en Donderdag so byna van die baan gewaai is deur stormsterk winde wat deurentyd teen meer as 40 km/h geloei het en soms die 75 km/h-kerf oortref het.

Die voorloper op die Sonskynreeks se verdienstelys, Lily May Humphreys van Engeland, is op +12 in die vierde posisie.

Die toernooi eindig Vrydag, met 32 spelers op +19 en beter wat vir die derde en laaste ronde gekwalifiseer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.