14 paaltjies in ’n wedstryd: Harmer draai kolwers wéér dronk

Simon Harmer. Foto: Twitter.

Die 31-jarige Simon Harmer het vir die derde keer in sy loopbaan 14 of meer paaltjies in ’n wedstryd geneem toe hy Essex gehelp het om Surrey met 169 lopies te wen.

Om sy prestasie in perspektief te plaas: Net die legendariese Engelse draaier, Derek Underwood, kon tussen 1967 en 1983 vir Harmer ewenaar.

Die veglustige draaier is bekend daarvoor dat hy sy kritici se monde wil snoer.

Hy het in vorige onderhoude onder meer gesê dat hy die “beste wegbreek-bouler ter wêreld is” én boonop mense verkeerd wil bewys wanneer hulle sê dat Engelse blaaie nie vroeg in die seisoen sal draai nie.

Hoewel iemand soos Indië se Ravichandran Ashwin dalk sy kop sal skud oor Harmer se “beste ter wêreld”-stelling, sorg sy loopbaanstatistieke vir indrukwekkende leesstof.

In 147 eersterangse wedstryde het hy reeds 36 keer vyf paaltjies in ’n wedstryd geneem, terwyl hy by sewe geleenthede tien of meer paaltjies in ’n kragmeting laat spat het.

Tog is sy en Keshav Maharaj se boulgemiddeld (27,35 teenoor 27,89) min of meer dieselfde.

Harmer het Suid-Afrika in 2017 verlaat nadat die moontlikheid opgeduik het om nie eens deur die Warriors gekontrakteer te word nie. Boonop is hy ook ná slegs vyf toetse deur die Protea-keurders in die pad gesteek.

Die Suid-Afrikaner het in sy kort internasionale loopbaan 20 paaltjies vir die Proteas teen ’n gemiddeld van 29 geneem, maar in die afgelope vier seisoene het hy 230 paaltjies vir sy graafskapspan teen ’n spoggemiddeld van 20,01 laat spat.

Hoewel hy ’n Kolpak-kontrak met Essex onderteken het, kan Brexit sy kanse om toetskrieket vir Engeland te speel in die wiele ry.

“Met die Kolpak-regulasies wat verander, sal die Kolpak-etiket heeltemal teen die einde van die jaar wegval wanneer Engeland die Europese Unie vaarwel toeroep,” het Harmer gesê.

Die krieketwebblad Cricinfo het hom gepols of hy weer na Suid-Afrika sal terugkeer om sy internasionale drome na te jaag.

“Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord. Daar gebeur baie dinge in Suid-Afrika en ek is onseker oor wat die gevoel van mense daar is.”

Volgens Harmer sal hy aanhou om sy bes vir Essex te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Die Wolf ·

Ai! wat van nederig wees. Niemand hou van windsakke nie.

Kokerboom ·

Dis jammer ons kon hom gebruik maar soos Koos10 noem sy pigment pas ongelukkig nie in by kniebuigende Proteas se kleurskakering. Hy mag seker maar winty wees!Sterkte aan hom

Kiepie ·

Help my asseblief, wat beteken “20 paaltjies teen ‘n gemiddeld van 29”? 29 wat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.