AB praat oor die 2015-halfeindstryd

 

AB de Villiers. Foto: Twitter.

Vyf jaar gelede het Nieu-Seeland Suid-Afrikaanse harte gebreek toe hulle vir die eindstryd van die 2015-Wêreldbeker gekwalifiseer het.

Die Johannesburgse Kiwi-speler Grant Elliot het destyds vir Dale Steyn vanaf die voorlaaste bal vir ’n ses oor sy kop geslaan om die halfeindstryd op ’n dramatiese wyse vir die Nieu-Seelanders te wen.

Die Suid-Afrikaners was platgeslaan, maar hul kaptein AB de Villiers het oënskynlik die hou op die ken gevat. En hoewel die trane agterna maar vlak tydens die mediakonferensie gelê het, was hy die toonbeeld van ’n sterk leier.

In ’n onlangse onderhoud met Hasha Bhogle het De Villiers egter erken dat die nederlaag hom seergemaak het: Dit het hom ’n jaar geneem om sielkundig daarvan te herstel.

“Dit was só naby. Ek is veral trots op die wyse waarop ons in daardie Wêreldbeker-toernooi gespeel het en daardie aand op Edenpark het ons van die beste krieket van die toernooi gespeel,” het hy gesê.

De Villiers het self ’n ongelooflike toernooi geniet. In agt wedstryde het hy 482 lopies teen ’n gemiddeld van 96,40 gelooi. O ja, sy treftempo was ’n verstommende 144,31 – waarskynlik te danke aan sy blitsige onoorwonne 162 teen die Wes-Indiese Eilande.

Hy is goed deur Faf du Plessis (380 lopies), Hashim Amla (333 lopies) en David Miller (324 lopies) bygestaan.

Grant Elliott het die wenlopies geslaan. Foto: ICC/Twitter

Politici en administrateurs het weliswaar dinge deurmekaargekrap toe hulle vóór die aanvang van die halfeindstryd vereis dat Vernon Philander vir Kyle Abbott in die beginspan vervang, maar toe Elliot die wenlopies geslaan het, was dit die uitklophou vir ’n Protea-span wat uitstekende krieket gespeel het.

“Die daaropvolgende 12 maande was baie taai vir my. Ek moes dalk meer daaroor met ander gepraat het. Ek het ’n bietjie alleen gevoel, maar dit is simpel om nou so iets te sê as jy nie daaroor gepraat het nie.

“As ek alles weer oor kon doen, sou ek waarskynlik die pad vorentoe met die afrigter en administrateurs bespreek het. Ek moes my emosies gedeel het en vir hulle van die dinge gesê het wat my pla, maar ek het nie.”

De Villiers het in 2018 sy internasionale uittrede aangekondig, pas nadat hy ’n deurslaggewende rol in die toetsreeksoorwinning teen Australië gespeel het.

Die Wêreldbeker-spook het egter ’n rol in sy besluit gespeel.

“Vanuit ’n persoonlike oogpunt het dit ’n ontsaglike groot rol gespeel. Dit was moeilik om weer oor te begin, veral as jy nog nie iets heeltemal verwerk het nie.”

De Villiers sal een van die kapteins in die komende 3TeamCricket-inisiatief op SuperSportpark wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.