‘Al wat ek wil doen is paaltjies vat’ – Rabada

Kagiso Rabada en sy spanmaats vier fees na hule die paaltjie van Indië se Shreyas Iyer gevat het. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Kagiso Rabada het opdrag gekry om paaltjies vir Suid-Afrika te jaag en dit is presies wat hy Dinsdag in die toets teen Indië op SuperSport Park in Centurion gedoen het.

Die snelbouler het uitstekende syfers van vyf paaltjies vir 44 lopies in 17 boulbeurte aangeteken. Indië het 208/8 op die telbord gehad toe swak lig gevolg deur reën die dag se spel beëindig het.

Dit was Rabada se 14de vyfpaaltjie-oorwinning in sy 61ste toets en sy vierde in agt toetse op Centurion – maar sy eerste teen Indië.

“Temba [Bavuma] vertrou sy instink oor die beste manier om ʼn paaltjie te vat en daar is altyd daardie verwagting van my,” sê Rabada.

“Dit is my werk en al wat ek wil doen is paaltjies vat. Dis nie ʼn swaar las op my nie.

“Ek was heel in my noppies met die manier waarop ek geboul het.

“Wat ek op enige blad probeer doen is om net die bal oor en oor op die regte plek te plaas; maar soms boul jy in die regte gebied en dit is nie so suksesvol nie.

“Vandag was my dag,” het Bavuma gesê.

Die bouler sê hy het gefokus geoefen en sy liggaam en gees was op ʼn goeie plek.

“Ek het nogal vol vertroue in die toets ingestap.”

Nandre Burger het ʼn bemoedigende debuut gemaak met twee paaltjies vir 50 lopies in 15 boulbeurte, maar Suid-Afrika se ander naatboulers het bestendigheid gekort en Indië was ook tevrede met hul posisie.

Paaltjiewagter Lokesh Rahul het 70 lopies in sy onoorwonne beurt geslaan en die soms moeilike kolftoestande kafgedraf met tien viere en twee sesse.

“KL [Rahul] doen wat hy altyd doen. Elke keer wat ons op ʼn moeilike plek is, is hy die een wat dit goed hanteer. Hy het ʼn baie duidelike wedstrydplan en hy het die regte balle verdedig,” sê die Indiese kolfafrigter, Vikram Rathore.

“Dit sou altyd ʼn uitdagende oppervlak wees nadat dit ʼn dag of meer onder seile was en die weer was ook sodanig dat dit die boulers help.

“Ek sou daarvan gehou het om meer paaltjies te hê, maar ons het lopies op die bord en het betreklik goed gevaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.