Aussies sing nou herskeduleer-deuntjie

Foto: Jeremy Ng/AFP.

Nick Hockley, Krieket Australië (CA) se tydelike uitvoerende hoof, sê nou dat die toer na Suid-Afrika so gou as moontlik herskeduleer moet word.

Die Australiërs het in Februarie op die laaste nippertjie weens Covid-19-vrese besluit om nie meer na Suid-Afrika te toer nie.

Die besluit het Krieket Suid-Afrika (KSA) warm onder die kraag gelaat, veral omdat die beheerliggaam onverpoos gewerk het om aan elke versoek van CA te voldoen.

Die Aussies sou eksklusiewe gebruik van die Irene Buiteklub in Pretoria geniet het en daar was selfs planne om ’n gimnasium op die perseel in te rig. Daarbenewens het KSA ook op groot onkoste ’n Australiese opsporingstelsel aangekoop om persone op te spoor indien daar positiewe Covid-19-gevalle sou wees.

“Ek wil eerstens dit duidelik stel dat almal teleurgesteld was omdat die toer nie kon voortgaan nie,” het Hockley vandeesweek gesê.

Hockley het dit weer eens onderstreep dat die spelers en spanbestuur se gesondheid die hoofprioriteit is, maar dat die twee lande se krieketbeheerliggame gereeld in kontak met mekaar is.

“Ons wil die toer so gou as moontlik herskeduleer, mits dit natuurlik veilig is en daar ’n datum op die internasionale krieketkalender beskikbaar is.”

Sydney Morning Herald berig dat indien dit nie binne CA se vermoë is om die toer teen 2023 te herskeduleer nie, hulle deur ’n stewige boete in die gesig gestaar word.

Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket, het vroeër gesê dat hy steeds ongelukkig met die Aussies is.

Volgens die voormalige Protea-kaptein het dinge maar net nie met CA reggeloop nie.

“Ons het nooit dieselfde gevoel van samewerking van CA gekry soos met die ander krieketrade nie. Dit is in die belang van wêreldkrieket as ons hulle uitdaag en ’n paar moeilike vrae vra.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Hoe nou Assies? COVID en die nuwe variasie is nog steeds in SA, en gaan nog ‘n rukkie hier wees. Dit was julle verskoning om die toer af te las, wat het intussen gebeur?
Het SA nader aan Indië beweeg en julle voel uitgesluit? Het julle die geldelike verlies begin voel? Het julle agter gekom dat julle teen SA moet speel om toetsstatus te behou?
HOU OP om te voel dat julle ons ‘n guns doen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.