Bedingham kasty Kiwi’s met 100-tal

’n Toetshonderdtal vir David Bedingham. (Foto: Fiona Goodall/AFP)

David Bedingham het vandag in Hamilton sy stempel op toetskrieket met sy eerste honderdtal afgedruk.

Ja, dit mag dalk ʼn afgewaterde Protea-toerspan wees, maar die 29-jarige kolwer het nogtans die prestasie teen ʼn sterk Nieu-Seelandse boulaanval vermag.

Hy het lekker aanvallend gekolf en hy het 14 grenshoue in sy beurt van 110 lopies van 141 aflewerings gemoker.

Daar is baie wat sal saamstem dat Bedingham eintlik al veel meer speelkans op die internasionale rooibalkrieketverhoog moes gekry het.

Hy tel gereeld onder die voorste lopiemakers in Engeland se County-kampioenskap en Ashwell Prince het destyds gewaarsku dat Krieket Suid-Afrika sy sokkies moet optrek voordat ʼn kolfdiamant deur sy vingers glip.

“Ons kan nie aanhou maak asof daar niks verkeerd is nie. Dit is hoog tyd dat KSA ’n bietjie ondersoek instel en nie doekies omdraai oor waarom spelers loop nie,” het die voormalige Protea-kolwer gesê.

Gelukkig het Bedingham sy planne laat staan om vir Engeland te kwalifiseer en hy het sy kans in die afgelope reeks teen Indië gekry.

Nou, in die afwesigheid van Aiden Markram en kie, is hy ongetwyfeld die behendigste Protea-wilgerlatswaaier in Nieu-Seeland.

Dit is te danke aan sy kolfvernuf dat die Proteas darem 235 lopies in hul tweede kolfbeurt kon aanteken. Keegan Petersen (43 lopies) het ook goed voor die paaltjies gelyk, maar agt van die ander Suid-Afrikaanse kolwers is vir minder as 20 lopies uitgehaal.

William O’Rourke het amok onder die kolwers gemaak om met ʼn boulontleding van 5/34 te spog.

Die Kiwi’s benodig 267 lopies vir ʼn geskiedkundige reeksoorwinning teen die Proteas en Tom Latham het saam met Devon Conway vir ʼn goeie aanloop tot hul kolfbeurt gesorg.

Dane Piedt het egter in die laaste boulbeurt van die dag vir Conway been voor paaltjie betrap.

Dalk is daar nog so ʼn bietjie Protea-hoop.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 242/10 in 97,2 boulbeurte: Ruan de Swardt 64, David Bedingham 39 en William O’Rourke 4/59.

Nieu-Seeland 211/10 in 77,3 boulbeurte: Kane Williamson 43, Dane Piedt 5/89 en Dane Paterson 3/39.

Suid-Afrika 235/10 in 69,5 boulbeurte: David Bedingham 110, Keegan Petersen 43 en William O’Rourke 5/34.

Nieu-Seeland 40/1 in 13,5 boulbeurte: Tom Latham 21* en Dane Piedt 1/3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Johan, “gereeld lopies” werk nie. gee ons eerder lopie gemiddeldes bv op die toer, plaaslik, county krieket. Dis eintlik wat werklik tel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.