Boulers sweet op SuperSportpark

Lungi Ngidi was die Proteas se mees suksesvolle bouler. Foto: GB Jordaan.

Die Proteas hou daarvan om op SuperSportpark te speel; hulle verloor nie sommer ’n toets daar nie. Maar Indië het ongetwyfeld die hef in die hand ná die eerste dag se spel in Centurion.

Die besoekers het waarskynlik ’n sug van verligting geslaak toe hulle gehoor het dat die vurige Duanne Olivier nie deel van die Protea-elftal is nie.

Die 29-jarige snelbouler was in die binnebaan om die beseerde Anrich Nortjé se skoene vol te staan nadat hy ’n magdom paaltjies in eersterangse wedstryde laat spat het.

Tog het Marco Jansen – weliswaar ’n baie opwindende speler – sy buiging gemaak, maar in Olivier (en Nortjé) se afwesigheid het die tuisspan se boulers met tye bra futloos gelyk.

KL Rahul (122*) en Mayank Agarwal (60) het ’n openingsvennootskap van 117 geniet voordat Lungi Ngidi (3/45) uiteindelik ’n deurbraak bewerkstellig het toe hy vir Agarwal been voor paaltjie betrap het.

Die Suid-Afrikaanse snelbouler het met die volgende aflewering van Cheteshwar Pujara ontslae geraak, maar Virat Kohli (35) en Rahul het daarna die Indiese skip na ’n veiliger hawe met hul vennootskap van 82 gestuur.

Marco Jansen het sy toetsbuiging gemaak. Foto: GB Jordaan.

Selfs toe Kohli sy paaltjie in die 69ste boulbeurt weggesmyt het, het Ajinkya Rahane (40) saam met Rahul die Suid-Afrikaners verder frustreer.

Ngidi was die Proteas se suksesvolste bouler, maar die tuisspan se snelaanval het nie die besoekers genoeg onder druk geplaas nie en Rahul-hulle kon hopeloos te veel aflewerings verby laat gaan.

As ’n skoolspeler se ma langs die veld gesit het, sou sy waarskynlik gereeld “lyn en lengte, kêrels” geskree het.

O, maar ons mis vir Anrich Nortjé.

Proteas: Dean Elgar, Aiden Markram, Keegan Petersen, Rassie van der Dussen, Temba Bavuma, Quinton de Kock, Wiaan Mulder, Marco Jansen, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada en Lungi Ngidi.

Indië: KL Rahul, Mayank Agarwal, Cheteshwar Pujara, Virat Kohli, Ajinkya Rahane, Rishabh Pant, Ravichandran Ashwin, Shardul Thakur, Mohammed Shami, Jasprit Bumrah en Mohammed Siraj.

Opsomming van telkaart:

Indië 273/3 ná 90 boulbeurte: KL Rahul (122*), Mayank Agarwal (60), Ajinkya Rahane (40*) en Lungi Ngidi (3/45).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.