Brevis slaan 50-tal teen Windies-toerspan

Dewald Brevis op die aanval. Foto: Twitter.

Dewald Brevis het 50 lopies van 64 aflewerings vir ʼn Suid-Afrikaanse Uitnodigingspan teen die Wes-Indiese Eilande in Benoni aangeteken.

Die meerdaagse kragmeting dien as oefenwedstryd vir die eerste toets tussen die Proteas en die Windies op SuperSportpark in Centurion.

Die 19-jarige Brevis het nou nege grenshoue – waaronder ʼn ses –  in sy beurt geslaan en Shukri Conrad sal beslis notas maak.

Die nuwe Protea-toetsafrigter was juis aan die stuur van die jong Suid-Afrikaners by verlede jaar se o. 19-Wêreldbeker waar Brevis die rekord vir die meeste lopies in die toernooi verbeter het: Spogbeurte van onder meer 65, 104, 96, 97 en 138 het gesorg dat hy 506 lopies teen ’n bobaas-gemiddeld van 84,33 gemoker het.

“Dewald Brevis is die naam op almal se lippe. Hy is AB de Villiers 2.0,” het Conrad destyds gesê.

Die jong kolwer het egter nie heeltemal op alle suiers in die onlangse SA20-toernooi gevuur nie, maar ʼn mens kan beslis nie sy talent ignoreer nie. Terselfdertyd sal hy ook meer geleenthede in die Titans se rooibalkrieketspanne moet kry.

  • Opsomming van telkaart:

Wes-Indiese Eilande 283/9 in 89 boulbeurte: Jason Holder 57, Joshua da Silva 54 en Corbin Bosch 2/17.

SA Uitnodigingspan 189/4 in 52 boulbeurte: Wihan Lubbe 71, Dewald Brevis 50 en Shannon Gabriel 2/20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Nog nie consistent nie, een beurt moker hy n 50, en die volgende vyf, 1,6,4,8,11. WesIndie is ongelukkig ook nie meer baie sterk nie. Sit hom teen Starc, Cummings, Broad, Anderson en sien wat gebeur, hy het ongelukkig nog nie kans gehad teen kwaliteit bowling nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.