Dag van drama op Southampton

Ben Stokes sal Engeland moet aanspoor. Foto: Twitter.

Die kolflegende Brian Lara het hier voor die eerste toets tussen Engeland en die Wes-Indiese Eilande op Southampton gesê die Windies sal sukkel om vir vyf agtereenvolgende dae mededingende krieket te speel.

Nou ja, te midde van ’n paar vreemde skeidsregterbeslissings, ’n leë stadion in die Covid-19-era en die emosie van die Black Lives Matter-beweging, het die besoekers met uitstekende krieket vorendag gekom.

Teen uitskeityd op die vierde dag was Engeland met die rug teen die muur op 284/8; ’n voorsprong van slegs 170 lopies.

Hoewel die voorsprong nie te versmaai is nie – veral op ’n oneweredige blad – het  die Windies beslis die hef in die hand ná ’n puik boulvertoning in die laaste sessie van die dag.

Engeland was goed op dreef met die telling op 249/3; Ben Stokes (46) en Zak Crawley (76) het gemaklik voor die paaltjies gelyk en die Engelse ringkoppe het waarskynlik aan ’n moontlike verklaarteiken begin dink.

Al die verklaarplanne het egter by die stadiondeur uitgewaai toe Jason Holder van Stokes ontslae geraak het.

Shannon Gabriel het van Ollie Pope en Dom Bess ontslae geraak. Foto: Twitter.

Kort daarna het Crawley ook verkas en toe Shannon Gabriel vir Ollie Pope en Dom Bess skoongeboul het, het Engeland vyf vinnige paaltjies binne 75 minute verloor.

Dit is 117 dae sedert die laaste internasionale krieketwedstryd gespeel is en sedertdien is talle noodgedwonge besluite geneem om die spel so veilig moontlik vir spelers in die Covid-19-era te maak.

Die gebruik van spoeg om die bal blink te poets is taboe, terwyl neutrale skeidsregters ook iets van die verlede is.

Die Engelse skeidsregterpaar, Richard Kettleborough en Richard Illingworth, was vir die eerste keer in aksie in Engeland gedurende ’n internasionale toetswedstryd.

Veral die ervare Kettleborough – hy was al in 64 toetse in aksie – het ’n paar swak beslissings teen die Windies gemaak.

’n Hele paar van sy been-voor-paaltjie-beslissings was verkeerd en die kollig was naderhand meer op die skeidsregters as die spelers gewees.

Krieket is egter ’n vreemde spel en enigiets kan nog gebeur. Veral met die veglustige Stokes aan die stuur van Engeland – hy het juis 4/49 in die Windies se eerste beurt geneem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.