Dis maak of breek vir Proteas

Suné Luus in aksie vir die Proteas. Foto: Marco Longari/AFP.

Nieu-Seeland het weliswaar ʼn reddingsboei in Suid-Afrika se rigting gegooi toe hulle Sondag vir Sri Lanka met 102 lopies in die Paarl getroef het, maar die Proteas moet steeds vanaand met Bangladesj afreken as hulle vir die halfeindstryd van die T20-Wêreldbeker wil kwalifiseer.

Die geskiedenis is ongetwyfeld in die tuisspan se guns: Die Proteas verloor nie sommer teen Bangladesj nie en hulle het die vorige kragmeting tussen die twee spanne met 32 lopies gewen.

Tog kan enigiets in die kortste weergawe van die spel gebeur, terwyl Suné Luus-hulle nog nie eintlik met die kolf vlamgevat het nie.

Hulle kon nog nie meer as 132 lopies aanteken as hulle eerste moes kolf nie. Terselfdertyd het hulle ook harde bene gekou toe hulle 130 lopies vir ʼn oorwinning in die openingswedstryd van die toernooi teen Sri Lanka moes slaan.

Luus is tans die Proteas se voorste lopiemaker – sy het 70 lopies in haar drie wedstryde teen ʼn gemiddeld van 23,33 en ʼn treftempo van 102 geslaan.

Nadine de Klerk en Chloe Tryon het ook al goeie beurte gespeel, maar Laura Wolvaardt en Marizanne Kapp (as ʼn kolwer) het nog nie juis die wêreld aan die brand gespeel nie.

“Dit is nooit lekker wanneer ʼn mens sukkel om lopies aan te teken nie; veral wanneer die wedstryde op jou tuisveld gespeel word,” het Wolvaardt gesê.

Die 23-jarige beskik ongetwyfeld oor die nodige talent – sy is die jongste Suid-Afrikaner om 2 000 lopies (weliswaar in eendagkrieket) aan te teken, terwyl Dané van Niekerk haar as ʼn toekomstige wêreldster bestempel het.

“Ja, dit is ʼn reusefrustrasie, maar ek voel goed tydens die netoefensessies en ek glo dat die lopies nog sal kom.”

Die wedstryd begin vanaand om 19:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Suid-Afrika se vorige uitslae teen Bangladesj:

19 November 2018: Proteas wen met 30 lopies

19 Mei 2018: Proteas wen met 32 lopies

17 Mei 2018: Proteas wen met 17 lopies

15 September 2013: Proteas wen met 3 lopies.

  • Wêreldbeker-punteleer (Groep Een):
  1. Australië: 8 punte
  2. Nieu-Seeland: 4 punte
  3. Sri Lanka: 4 punte
  4. Suid-Afrika: 2 punte
  5. Bangladesj: geen punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Die probleem, nes die mans span, is dat ons ewig staatmaak op ander spanne en faktore om deur te gaan. Back julle self, speel vir die wen, field jou beste span, maak dit 4/4 en laat ander op jou staat maak. Sterkte, glo julle sal die een kan vat. Maar sien nie n wen teen Eng of Ind in n semi nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.