Dowe krieketsterre oorgehaal vir WB-sukses

Suid-Afrika se dowe krieketspan het vir die T20-Wêreldbeker in Katar gekwalifiseer. (Foto: Facebook/Deaf Cricket South Africa)

Volgens Riaan Cronjé is Suid-Afrika se dowe krieketspelers goed genoeg om die komende T20-Wêreldbeker in Katar te wen.

Die span spog immers met ʼn goeie getuigskrif – hulle het onlangs met ʼn Indiese toerspan afgereken, terwyl hulle ook met stewige vertonings by die afgelope internasionale uitkloptoernooie vorendag gekom het.

Hoewel die nasionale afrigter weet dat enigiets in krieket se mik-en-mokerformaat kan gebeur, het hy vertroue in sy spelers se vermoë om op die groot verhoog te skitter.

“Ons is geseënd met baie talentvolle spelers. Omtrent 99% van die span speel klubkrieket saam met nie-dowe spelers en die groep handhaaf ʼn goeie balans tussen ervaring en jong spelers wat skielik opgang gemaak het,” het Cronjé aan Maroela Media gesê.

Een van die opkomende sterre is Heinrich Badenhorst, ʼn kranige krieketspeler van Pretoria wat met marmerbeensiekte (sklerosteose) gebore is. Dit is ʼn seldsame genetiese afwyking waarmee net meer as 100 mense wêreldwyd gediagnoseer is.

Weens die genetiese toestand kan sy skedel verdik – ʼn uiters gevaarlike stand van sake omdat daar dan drukking op die brein en breinstam geplaas word. Gesigsverlamming en gehoorverlies is ook van die ernstige nagevolge.

Onderkry is egter min en hy het in 2021 nie net die jongste speler nóg geword om vir die Titans se senior dowe krieketspan te speel nie, maar die veelsydige 16-jarige is nou ook in aksie vir Hoërskool Garsfontein se tweede krieketspan.

“Ek is superopgewonde om in Katar te speel en kan nie wag vir die toernooi om te begin nie. Ek is baie trots om my land te verteenwoordig en ek weet ons gaan sommer baie goed vaar,” het Badenhorst gesê.

As hy moet kies, sal hy bitter graag teen Indië of Engeland wil kragte meet, maar dit is veral ʼn tweestryd teen die Indiërs wat hom opgewonde maak.

Heinrich Badenhorst. (Foto: Verskaf)

“Hulle het ons verlede jaar in die Kampioenebeker geklop. Dowe krieket help my om baie meer dinge op die veld met my oë waar te neem en dit gee my skoolkrieket ook ʼn definitiewe hupstoot.”

Volgens Cronjé is onvoldoende fondse een van die moeilikste aflewerings wat dowe krieketspelers in Suid-Afrika moet trotseer.

Krieket Suid-Afrika se geldkraan is lankal nie meer groot genoeg oopgedraai nie en die spelers en bestuurslede moet self probeer om R250 000 bymekaar te maak om hul vlugte na Doha te betaal.

ʼn BackaBuddy-veldtog is intussen van stapel gestuur, maar Cronjé vertel dat die spelers oorgehaal is om ʼn sukses van hul Wêreldbeker-veldtog te maak.

“Almal span saam om geld in te samel en die meeste spelers is bereid om hul eie vliegtuigkaartjies te koop. Met die Wêreldbeker om die draai het ons kwalik genoeg geld gehad om ʼn oefenkamp te hou, om dan nie eens van opwarmingswedstryde te praat nie.”

Dan sal hy ook daarvan hou as dowe krieketspelers ʼn kans kry om hul vaardighede in elke krieketstreek van die land uit te stal.

“Net Gauteng, Noordelikes, die Westelike Provinsie, Boland, Noord-Kaap en KwaZulu-Natal is aktief betrokke by dowe krieket en ons sal daarvan hou om die spel na die ander streke ook uit te brei. Ek is oortuig dat daar nog talentvolle spelers in Suid-Afrika is waarvan ons nie weet nie.

“Die spelers is egter só toegewyd. Hulle is lus om te speel en hulle is lus om te wen. Almal is baie toegewyd om ʼn wenkultuur te kweek.”

  • Die T20-Wêreldbeker vir dowe krieketspelers word van 1 tot 12 Desember in Katar beslis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.