Draaiers haal wind uit Sri Lanka-seile

George Linde het ekonomies in sy tien boulbeurte geboul. Foto: Twitter.

Suid-Afrika is ’n krieketland wat tradisioneel swaar op sy snelboularsenaal steun om paaltjies op die internasionale verhoog te neem.

Maar vandag in Sri Lanka het Keshav Maharaj (3/38), Tabraiz Shamsi (2/31), George Linde (2/32) en Aiden Markam (1/41) uitstekend saamgespan om die wind uit die tuisspan se kolfseile te haal.

Dit is die eerste keer in Suid-Afrika se internasionale krieketgeskiedenis dat die draaiers 40 van die 50 boulbeurte in ’n eendagwedstryd afstuur en hulle het ’n groot rol gespeel om die eilandbewoners tot 203/9 te beperk.

Indien die Proteas vandag wen sal dit hul eerste reeksoorwinning in die formaat van die spel wees sedert hulle in Maart 2020 met Australië klaargespeel het.

As die Suid-Afrikaners se draaiers egter so lekker op die kolfblad baljaar, behoort die tuisspan se draaiers ook ’n gevaar te wees.

Janneman Malan en Aiden Markram is egter goed op dreef, terwyl Heinrich Klaasen in die tweede eendagwedstryd ook weer beter gekolf het.

Hulle sal net moet slim speel – ’n wenteiken van 204 in 50 boulbeurte is glad nie baie nie – behalwe as jy ’n spul paaltjies weens onbeholpe houe verloor.

Proteas: Janneman Malan, Aiden Markram, Reeza Hendricks, Rassie van der Dussen, Heinrich Klaasen, Andile Phehlukwayo, Wiaan Mulder, George Linde, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada en Tabraiz Shamsi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harry ·

MM se asb vir ons wie het toe laaste gelag, geen berig oor die uitslag van die wedstryd nie??!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.