Engeland het die kolfhef in die hand

Stuart Broad het ses paaltjies in Wes-Indië se eerste kolfbeurt geneem. Foto: Twitter.

Skitterboulwerk deur Stuart Broad (6/31) het gesorg dat Engeland met die hef in die hand is op die derde dag van die laaste en beslissende toets teen die Wes-Indiese Eilande op Old Trafford.

Die 34-jarige snelbouler het vier vinnige paaltjies geneem om die eilandmanne tot 197 in hul eerste beurt te beperk.

Vroeër het Ollie Pope (91) en Jos Buttler (67) die Engelse kastaiings uit die vuur gekrap met ’n goeie vennootskap van 140 lopies om die vyfde paaltjie. Die twee het lekker aanvallende krieket gespeel en hulle het saam 20 grenshoue geslaan.

Broad het ook met die kolf uitgeblink en 62 lopies van slegs 45 aflewerings gemoker. Saam het die driemanskap gesorg dat Engeland 369 in hul eerste beurt aangeteken het.

Toe Chris Woakes vroeër vanoggend vir Shane Dowrich van Broad se boulwerk uitgevang het, het Engeland ’n gemaklike voorsprong van 172 lopies geniet.

Teen etenstyd het Dom Sibley (8) en Rory Burns (2) hul voorsprong na 182 lopies gerek. Die tuisspan lyk na die gunsteling om die reeks te wen, nadat die Windies die eerste toets met vier paaltjies in Southampton beklink het.

Vroeër het die Engelse ringkoppe besluit om vir Jofra Archer by hul elftal in te sluit. Die 25-jarige Archer was vroeër in die sop omdat hy Engeland se Covid-19-regulasies verbreek het.

Hy was in isolasie geplaas, maar nadat hy twee keer negatief vir die virus getoets is, het die keurders hom in die plek van die veelsydige Sam Curran gekies.

Hy het egter nog nie ’n groot invloed op die wedstryd gehad nie – hy het 1/72 in die Windies se eerste beurt geneem, terwyl Kemar Roach hom vir net drie lopies uitgeknikker het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.