Engelse kriekettreurmare duur voort

Joe Root. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

Kyk, dit gaan tans nie goed met Engeland se krieketspan in Australië nie.

Ondanks al hul bravade en optimisme ná twee groot nederlae was die eerste dag van die derde toets op die Melbourne Cricket Ground net weer eens ’n bewys dat dade swaarder as woorde op die krieketveld weeg.

Die besoekers het seker al aan verskonings begin dink toe Pat Cummins hulle gevra het om eerste te kolf. Toegegee, dit is nie die beste kolfblad in die geskiedenis van toetskrieket nie, maar dit behoort nie eintlik vir enige nagmerries te sorg nie.

Joe Root gaan egter vannag in sy slaap rondrol nadat sy span vir slegs 185 uitgeboul is.

Ja, Cummins en Mitchell Starc is tans skitterend met die bal in die hand, maar ervare Engelse spelers soos Ben Stokes en Jos Buttler het eintlik hul paaltjies op ’n skinkbord weggegee.

Root was self bitter teleurgesteld toe Alex Carey hom agter die paaltjies van Starc se boulwerk uitgevang het.

Daarteenoor het Australië sonder veel stampe en stote tot 57/0 in die 15de boulbeurt gevorder voordat James Anderson taamlik laat vir David Warner terug na die kleedkamer gestuur het.

Nodeloos om te sê is die Engelse media baie krities oor die span se vertoning en woorde soos “vernederend” en “gruwelvertoning” is gebruik om die besoekers se spel te beskryf.

“’n Span moet probeer om 320 in sy eerste beurt aan te teken – selfs wanneer hy ingestuur word om eerste te kolf. En as Engeland teen middagete net twee paaltjies verloor het, sou hulle waarskynlik op die regte koers gewees het,” het die BBC se Jonathan Agnew geskryf.

Maar Dawid Malan het sy paaltjie in die laaste boulbeurt vóór etenstyd verloor en die skrif was daarna aan die muur vir die besoekers.

“Hul kolfwerk was onbeskryflik treurig. Dit is tyd dat hulle die daad by die woord voeg,” het Agnew afgesluit.

Maar ’n mens wonder of dit nie dalk reeds te laat is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.