Engelse sesse reën so saam met die Protea-trane

Foto: GB Jordaan

Kevin Pietersen het vroeër gesê dat daar nog ’n opdraande stryd op die Proteas wag voordat hulle hulself ten volle kan regruk. Hoewel die Mark Boucher-era op ’n ietwat suksesvolle noot begin het – daar was seges in die toets-, eendag- én T20-kragmetings, terwyl hulle weer tekens van hul veggees van ouds getoon het – moet die ‘nuwe’ Proteas nog ’n reeks beklink.

En soos wat Pietersen tereg voorspel het, dit gaan nog ’n rukke neem; veral as Eoin Morgan 57 onoorwonne lopies van slegs 22 aflewerings gemoker het om ’n reuseteiken van 223 suksesvol op SuperSportpark te jaag.

Die Morgan-geïnspireerde blitzkrieg het gesorg dat die besoekers die wenlopies met slegs vyf paaltjies plat in die laaste boulbeurt geslaan het.

Tabraiz Shamsi (3-40-1) en Lungi Ngidi (4-55-2) het veral swaar geleef, terwyl Dwaine Pretorius ook nie veel gehelp het toe hy twee vangkanse in die 19de boulbeurt verbrou het nie.

Maar ná vandag se fratswedstryd – waar 448 lopies aangeteken is – is een ding seker: Op die hoëveld kan jy die bal maar gerus in die lug slaan, dit sal waarskynlik oor die grenstou seil.

Morgan het sewe sesse gemoker, terwyl die Proteas se Heinrich Klaasen (66) en Quinton de Kock (35) elk vier keer die bal oor die grens gelooi het.

De Kock en Temba Bavuma (49) het skitterend begin en ’n openingsvennootskap van 84 geniet, maar Engeland se kolflys het uiteindelik net te veel oemf vir die Protea-boulers gehad.

“Ons het geweet vandag gaan ’n lopiefees wees, maar ons is steeds teleurgesteld dat ons nie die wa deur die drif kon trek nie. Die spelers is egter ook net menslik en hulle het hul bes gegee,” het De Kock ná die wedstryd gesê.

Morgan is as die speler van die wedstryd, sowel as van die reeks aangewys.

“Dit was ’n hengse wedstryd gewees en ons was nogal onder die druk; veral ná Quinny en Temba (Bavuma) se vreeslose begin. Maar gedurende die T20-wêreldbeker in 2016 het ons ’n telling van 230 teen die Proteas in Indië gejaag. Ons het dus geweet dat ons dié wedstryd kon wen,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

david ·

Jare gelede het ons Krieketafrigter (‘n voormalige Springboksnelbouler) hierdie wysheid kwyt geraak: ‘n span se lopie telling aan die einde van die kolfbeurt is die resultaat van die ander span se boulwerk.
Dit was dwarsdeur die reeks teen die Engelse duidelik–ons kan ‘n telling daar stel, maar ons kan dit nie verdedig nie–ons boulwerk is net nie goed genoeg nie….!
Is die oorsaak nie te vinde op die laagste vlak van die spel nie…? Te veel politiek en te min afrigting ?

Ruan ·

Ek stem 100% saam. Ons kolf werk is goed maar ons veld werk en boul werk kort aandag………………… baie aandag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.