Janneman verdien ’n toetskrieketkans

Janneman Malan het 132 lopies in ’n onlangse wedstryd teen die Warriors aangeteken. Foto: Twitter.

Malibongwe Maketa het in ʼn onderhoud gesê hy is deeglik daarvan bewus dat kolfwerk deesdae die Proteas se achilleshiel op die internasionale toetsverhoog is.

“Ons kan nie wegkruip van die feit dat ons kolwers nie op alle suiers vuur nie. Ons soek na daadwerklike oplossings sodat ons meer gereeld 400 lopies in ons eerste beurt kan aanteken,” het die Proteas se tussentydse afrigter vir hul komende Australiese avontuur gesê.

Maar die kolwers wat op die vliegtuig na Australië klim, sal nie juis vir Pat Cummins en kie slapelose nagte besorg nie.

En terwyl almal nou op ʼn soektog na oplossings is, is die antwoord nie dalk in die Paarl te vinde nie? Dit is immers waar Janneman Malan gereeld die boulers op die agtervoet plaas.

Die 26-jarige kolwer het reeds ʼn paar honderdtalle vir die Proteas in eendagkrieketwedstryde gemoker, terwyl die Internasionale Krieketraad (IKR) hom vroeër as sy opkomende speler van die jaar (2021) aangewys het.

In plaaslike rooibalkrieket-kragmetings slaan hy sy lopies teen ʼn gemiddeld van 49,63. Dit vergelyk baie goed met Dean Elgar (41,51), Sarel Erwee (38,16), Theunis de Bruyn (41,83), Temba Bavuma (37,11) en Rassie van der Dussen (41,81) se eersterangse vertonings.

Trouens, slegs Kyle Verreynne se gemiddeld (49,58) kan in dieselfde asem as Malan sʼn genoem word.

Die Boland-kolwer verdien beslis ʼn oproep van die nasionale keurderbaas. Sy kolf kan ook die praatwerk in rooibalkrieketwedstryde doen.

Malan se eersterangse rekord: Hy het in sy 47 wedstryde reeds 3 673 lopies teen ʼn gemiddeld van 49,63 aangeteken. Hy het reeds 13 honderdtalle geslaan en spog met ʼn hoogste telling van 208*.

Protea-groep vir die toer na Australië: Dean Elgar (kaptein), Sarel Erwee, Theunis de Bruyn, Themba Bavuma, Khaya Zondo, Rassie van der Dussen, Heinrich Klaasen, Kyle Verreynne, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada, Simon Harmer, Gerald Coetzee, Marco Jansen, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé en Glenton Stuurman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George ·

Janneman kort absoluut n kans. Maar Markram was gehou in die span toets na toets na toets, gelukkig nou gedrop, maar vir De Bruyn bo hom…Ek is onder die indruk dat Janneman se van verkeerd is vir CSA en so hom nie sal kies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.