Jong Proteas veg tot laaste aflewering

Reeza Hendricks is ná ’n goeie vyftigtal uitgehardloop. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Die Proteas se onervare T20-groep het toe so ’n bietjie by die meer senior toetsspan afgekyk.

Hoe weet ’n mens dit?

Want net soos die toetskrieketspan het die veldwerkers vandag met ’n paar vangskote misgetas, terwyl Pakistan se draaiers weer die Proteas dronk gedraai het.

Maar waar dit met tye gelyk het of die meer senior toetskolwers net pleinweg met die kolf gehensop het, het Heinrich Klaasen se troepe darem veggees gewys.

Ja, Pakistan het die eerste T20-kragmeting in Lahore met drie lopies gewen. Tog was die wedstryd tot en met die heel laaste aflewering in die weegskaal: ’n ses sou die stryd vir die Proteas beklink het.

Die verskil tussen die twee spanne was uiteindelik Mohammad Rizwan.

Die veglustige paaltjiewagter het ’n skitterende honderdtal geslaan. Sewe groot sesse van sy flitsende kolf af het vir hope Pakistan-momentum gesorg.

Die Proteas het self blitsig weggetrek danksy Janneman Malan se 44 lopies van 29 aflewerings. Saam met Kyle Verreynne is hy ongetwyfeld die toekoms van Suid-Afrikaanse krieket.

As hy maar net gekies word.

Die skrif was egter aan die muur toe Usman Qadir sy verskyning gemaak het. Die bybreekbouler – wat seker met een van die netjiesste haarstyle in wêreldkrieket spog – het net 21 lopies in sy vier boulbeurte afgestaan.

Daarbenewens het hy ook van Malan en Jacques Snyman ontslae geraak.

Dwaine Pretorius en Bjorn Fortuin het hul bes teen die einde probeer, maar hierdie hekkie was net-net te hoog vir die jong Proteas.

  • Opsomming van telkaart:

Pakistan 169/6: Mohammad Rizwan 104, Haider Ali 21 en Andile Phehlukwayo 2/33.

Suid-Afrika 166/6: Reeza Hendricks 54, Janneman Malan 44 en Usman Qadir 2/21.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andrew ·

Is die humiditeit hoog in Pakistan? Die toestse , dink selfde storie die vorige toetsreeks ook. Die onlangse eendag reeks in SA het ook heelwat verbroude vankaanse gehad. Wonder of SA’s nog kan vang?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.