Kiwi’s se oud-Affie laat kolwers bontstaan

Neil Wagner vier Steve Smith se paaltjie. Foto: William West/AFP.

Indië en Nieu-Seeland sal op 18 Junie in Engeland in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap sake uitspook om as die voorste toetskrieketland aangewys te word.

Die Proteas is tans so ver weg van ’n plek in hierdie wedstryd as wat Putsonderwater van die Colosseum is, maar daar sal darem ’n Suid-Afrikaans-gebore speler wees wat sy stempel op die kragmeting kan afdruk.

Neil Wagner lewer deesdae die een skittervertoning na die ander vir Nieu-Seeland en die veglustige snelbouler sal nie kan wag om vir Virat Kohli en kie te laat bontstaan nie.

Die 35-jarige Pretoriaboorling het in 2012 sy toetsbuiging vir Nieu-Seeland gemaak en sedertdien het hy reeds 219 paaltjies in 51 wedstryde teen ’n gemiddeld van 26,32 geneem.

Ja, soms wil dit voorkom asof hy net die bal baie vol óf baie kort van ’n lengte kan afstuur, maar soos wat Australië se Matthew Wade jou sal vertel, niemand kan opslagballe soos Neil Wagner boul nie.

Die linkshandige blits is een van wêreldkrieket se hardebaarde en is tans die derde beste bouler op die internasionale toetskrieketranglys.

’n Shaheen Afrid-streepbal het verlede jaar twee van sy tone gebreek, maar Wagner het steeds 49 boulbeurte afgestuur en vier paaltjies in die wedstryd geneem.

“Dit is ’n reusevoorreg om die swart pet te dra en dit sorg vir genoeg adrenalien en motivering om jou deur sulke oomblikke te dra,” het Wagner ná die tyd van sy heldedade gesê.

Omdat hy net toetskrieket vir Nieu-Seeland speel, vergelyk hy die komende Indië-kragmeting met die eindstryd van ’n Wêreldbeker-toernooi.

“Om in ’n eenmalige eindstryd teen Indië – waarskynlik die voorste toetskrieketland ter wêreld – te speel en om jouself op die grootste verhoog teen hulle te meet, is waaroor krieket vir my gaan.”

  • Toetskampioenskap-punteleer:
  1. Indië
  2. Nieu-Seeland
  3. Australië
  4. Engeland
  5. Pakistan
  6. Wes-Indiese Eilande
  7. Suid-Afrika
  8. Sri Lanka
  9. Bangladesj

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cecilia ·

Ja en in SA kon hy seker nie eers d kortlys haal vir d Protea span nie. Hy is polities inkorrek gepigmenteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.