Klaasen en kie bó, ondanks Marsh-heldedade

Heinrich Klaasen het 53 onoorwonne lopies aangeteken. (Foto: Twitter/IPL)

Mitchell Marsh het ʼn barshou in die kleure van Delhi Capitals teen die Sunrisers Hyderabad gespeel. Die Australiër het eers 4/27 geneem, waarna hy 63 vinnige lopies aangeteken het.

Maar ondanks sy heldedade het die Sunrisers steeds die kragmeting met nege lopies gewen.

Heinrich Klaasen was een van die Sunrisers se groot sterre. Die Protea-paaltjiewagter het 53 onoorwonne lopies van 27 aflewerings gemoker en hy het sy span se skip na ʼn veilige hawe gestuur nadat hulle vier vinnige paaltjies verloor het.

Klaasen het vier sesse in sy beurt geslaan en hy het nou al 153 lopies in sy ses wedstryde teen ʼn treftempo van 182,14 gemoker.

Die 31-jarige Pretorianer speel deesdae met die selfvertroue van ʼn speler wat nie net weet wat van hom in die span verwag word nie, maar ook iemand wat weet dat sy spanmaats en afrigters in hom glo.

Shukri Conrad, die Proteas se nuwe toetskrieketafrigter, het aangedui dat Klaasen sy eerstekeuse-paaltjiewagter is, terwyl Rob Walter ook op die eendagkrieketverhoog sy vertroue in hom gestel het.

Met sy onoorwonne honderdtal in Potchefstroom het Klaasen vroeër amper eiehandig ʼn eendagwedstryd teen die Wes-Indiese Eilande beklink.

“Ons het probeer om op die toestande te fokus, en nie op die situasie waarin ons onsself bevind het nie. En die kolftoestande was baie goed,” het hy gesê toe hy sy speler van die wedstryd-toekenning in ontvangs geneem het.

  • Opsomming van telkaart:

Sunrisers Hyderabad 197/6 in 20 boulbeurte: Abhishek Sharma 67, Heinrich Klaasen 53* en Mitchell Marsh 4/27.

Delhi Capitals 188/6 in 20 boulbeurte: Mitchell Marsh 63, Phil Salt 59 en Mayank Markande 2/20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.