Kwyn van toetskrieket in SA ‘betreurenswaardig’

Dean Elgar sê hy hoop jong spelers sal dieselfde geleenthede kry wat hy die afgelope 12 jaar as toetsspeler gehad het. (Foto: Krieket SA/X)

Op die vooraand van sy 86ste en laaste toetswedstryd, sê Dean Elgar hy is “hartseer” dat Suid-Afrika ʼn verswakte span gaan stuur om in Maart twee toetswedstryde in Nieu-Seeland te speel.

“Die situasie waarin ons geplaas word, is nie ideaal nie,” het Elgar Dinsdag gesê. Die tweede toets teen Indië begin Woensdag op Nuweland, met Elgar wat die Proteas sal aanvoer in sy laaste wedstryd voor sy uittrede uit internasionale krieket.

Slegs twee van die spelers wat in verlede week se toets teen Indië geseëvier het, sal na Nieu-Seeland reis, die gevolg van ʼn besluit deur Krieket Suid-Afrika om die winsgewende SA20-kompetisie te prioritiseer.

“Ongeag van wat agter die skerms gebeur, is daar steeds ʼn groot honger [na toetskrieket] onder die ouens wat speel,” sê hy.

Elgar sê ʼn positiewe aspek is dat dit ʼn geleentheid skep “vir die ouens wat Nieu-Seeland toe gaan om goeie vertonings te lewer en eindelik gereelde spanlede te word”.

Hy het egter gou bygevoeg dat die besluit om die SA20-liga voorkeur bo toetswedstryde te gee, niks met die spelers te doen het nie.

“Wat agter die skerms gebeur, is heeltemal buite ons beheer. Dit is nie in ons hande nie, en ook nie in dié van die afrigters of die spanbestuur nie.

“Dit is betreurenswaardig dat dit in daardie rigting beweeg het. As spelers het ons nie beheer daaroor nie en ons konsentreer op die dinge waarop ons kan.”

Elgar se Indiese eweknie Rohit Sharma sê vir hom is toetskrieket die hoogtepunt van die spel.

“Vir my is toetskrieket die grootste uitdaging.

“Jy sou die beste spelers in daardie formaat wou sien speel.

“Ek weet nie wat die besprekings by Krieket Suid-Afrika is nie, maar uit my oogpunt dink ek prioriteit en heelwat aandag behoort aan toetskrieket gegee te word.

“Gelukkig het ons in hierdie stadium nie sulke probleme in Indië nie.”

Sharma meen alle lande behoort toetskrieket te prioritiseer.

“Dit is iets wat alle lande moet beskerm en waarde aan heg,” het die 36-jarige gesê.

Toetshoogtepunt

Elgar sê krieket se administrateurs “moet die regte besluite vir spelers en die volhoubaarheid van ons formaat, veral die toetsformaat, neem”.

“Dit hang van spelers af om uit te gaan en te gaan wen en ʼn honger vir die formaat te wys. Solank as wat ek hier is, sal ek ʼn toetsfanatikus wees en dink baie van die ouens is ook.”

Elgar sê hy hoop jong spelers sal dieselfde geleenthede kry wat hy die afgelope 12 jaar as toetsspeler gehad het.

“Ons kan baklei en die formaat bevorder soveel ons kan, maar dit hang uiteindelik af van die man wat die somme maak.

“Hopelik gaan goeie verstand seëvier in die besluite wat in die toekoms vir spelers geneem word.”

Elgar het Suid-Afrika se beperkte toetsskedule gekritiseer; hulle speel net ʼn reeks van twee wedstryde tot die 2026-’27-seisoen, waarna hulle drie wedstryde teen onderskeidelik Australië en Engeland speel.

“Dit sal hartseer wees as ons in die toekoms net twee toetswedstryde in ʼn reeks speel. Dis nie vir my die beste manier vir ouens om die formaat te leer ken nie.”

Rakende Woensdag se toets, sê Elgar – wat 185 in die eerste toets aangeteken het – dat dit belangrik is om op die wedstryd te konsentreer en nie sy persoonlike omstandighede nie.

“Dit is ʼn reusetoets vir ons, die hoogtepunttoets van die jaar,” sê Elgar wat later vanjaar as kaptein van Somerset in die graafskap‑kampioenskap sal aanmeld.

“Ons het nog ʼn wedstryd waar ons ʼn goeie begin moet maak. Ons sal ná die tyd oor die aftrede bekommerd wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.