Lyon draai Kiwi’s deurmekaar

Australië se Nathan Lyon. (Foto: Marty Melville/AFP)

Pat Cummins het Nathan Lyon en Cameron Green geloof vir hul bydraes in Australië se groot oorwinning teen Nieu-Seeland in die eerste toets in Wellington.

Die Aussies het die Swartpette met 172 lopies oorrompel; Lyon het tien paaltjies in die wedstryd geneem terwyl Green 174 onoorwonne lopies in sy span se eerste kolfbeurt gemoker het.

“Cameron was ongelooflik en sy beurt was uiteindelik die verskil tussen wen en verloor. Ek was baie beïndruk met sy positiewe ingesteldheid en hy het die boulers op die eerste dag se spel onder druk geplaas,” het Cummins gesê.

Australië se krieketkaptein meen ook dat Lyon ʼn groot klop op die skouer verdien.

Nieu-Seeland het in die tweede kolfbeurt sy laaste sewe paaltjies vir slegs 70 lopies verloor en die draaier het die grootste verwoesting onder die kolwers gesaai.

“Die baanblad het vir goeie wip en draai gesorg en ons is dan altyd dankbaar om ʼn speler van Nathan se gehalte in ons elftal te hê.”

Die tweede toets in die reeks begin Vrydag in Christchurch.

  • Opsomming van die telkaart:

Australië 383/10 in 115,1 boulbeurte: Cameron Green 174*, Mitchell Marsh 40 en Matt Henry 5/70.

Nieu-Seeland 179/10 in 43,1 boulbeurte: Glenn Phillips 71, Matt Henry 42 en Nathan Lyon 4/43.

Australië 164/10 in 51,1 boulbeurte: Nathan Lyon 41, Cameron Green 34 en Glenn Phillips 5/45.

Nieu-Seeland 196/10 in 64,4 boulbeurte: Rachin Ravindra 59, Daryl Mitchell 38 en Nathan Lyon 6/65.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.