Markram op die voorvoet in Johannesburg

Aiden Markram in aksie op die Wanderers. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Aiden Markram se tydsberekening is steeds uit die boonste rakke in die tweede toets teen die Wes-Indiese Eilande op die Wanderers.

Nadat die 28-jarige openingskolwer ʼn honderdtal op SuperSportpark teen die besoekers gemoker het, het hy nou weer die pap dik in Johannesburg aangemaak.

Teen middagete het hy 55 onoorwonne lopies aangeteken en saam met Dean Elgar (42) en Tony de Zorzi (31*) toegesien dat Suid-Afrika 133/1 op die telbord het.

Vroeër het Temba Bavuma die loot gewen en besluit om eerste te kolf op ʼn Wanderers-baanblad wat aansienlik meer draaiersvriendelik as voorheen lyk.

Die Proteas het juis vir Simon Harmer en Keshav Maharaj in hul elftal, terwyl die Windies vir Gudakesh Motie in Shannon Gabriel se plek gekies het.

Motie, ʼn bybreekbouler wat onlangs vir Zimbabwe in Bulawayo dronk gedraai het, het die paaltjie van Elgar ingeoes.

Die hardebaard kolwer sal homself egter skop: Dit was veel eerder sy swak hou as Motie se goëlkuns wat hom terug na die kleedkamer gestuur het.

Markram het egter reeds tien grenshoue in sy beurt gemoker en oudergewoonte was sy prentjiemooi dryfhoue ʼn fees vir die oog vir krieketpuriste gewees.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 133/1 in 30 boulbeurte: Aiden Markram 55* en Dean Elgar 42.

  • Spanne:

Proteas: Dean Elgar, Aiden Markram, Tony de Zorzi, Temba Bavuma (kaptein), Ryan Rickelton, Heinrich Klaasen, Wiaan Mulder, Keshav Maharaj, Simon Harmer, Gerald Coetzee en Kagiso Rabada.

Windies: Kraigg Brathwaite (kaptein), Tagenarine Chanderpaul, Raymon Reifer, Jermaine Blackwood, Kyle Mayers, Roston Chase, Joshua da Silva, Jason Holder, Alzarri Joseph, Kemar Roach en Gudakesh Motie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.