Protea-blitse laat bleekbene bontstaan

Anrich Nortjé vier Ben Stokes se paaltjie. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Op ’n perfekte dag vir snelboulwerk het die Proteas so te sê met die perfekte snelboulvertoning vorendag gekom.

Volgens berigte was Julie 2022 die droogste maand in Engeland sedert 1935, maar toe reënweer die spel op die eerste dag van die eerste toets op Lord’s in die wiele gery het, was die Engelse kolwers waarskynlik net so dankbaar soos die land se boere.

Want ná 32 aksiebelaaide boulbeurte het die tuisspan met hul telling op 116/6 gesteier.

Kagiso Rabada het die eerste twee paaltjies laat spat, waarna Anrich Nortjé die bleekbene met sy vaart laat bontstaan het.

Ja, sal die krieketpuriste met hul rooi en geel dasse vanuit hul pawiljoensitplekke mor, Nortjé het aanvanklik ’n hele paar grenshoue afgestaan; op Lord’s kan ’n bouler immers nie net op sy vaart staatmaak nie.

Maar daardie einste omies het sommer die betekenis van ’n lekker Suid-Afrikaanse rugbysêding aangeleer: Daar is geen plaasvervanger vir spoed nie.

En wanneer jy die bal ook so ’n bietjie teen 145 km/h kan swaai, behoort jy amper onstuitbaar op ’n bewolkte Engelse dag te wees.

Nortjé het vir Jonny Bairstow (wat vier honderdtalle in sy laaste vyf kolfbeurte gemoker het) met ’n kartets van 150 km/h vir ’n nulletjie skoongeboul. Daarna het hy van die gevaarlike Ben Stokes net voor middagete ontslae geraak, terwyl Ben Foakes ook geen antwoord vir sy aggressie gehad nie.

’n Snelboul-aanval van Rabada, Nortjé, Lungi Ngidi en Marco Jansen is dalk die perfekte teenvoeter vir Engeland se onverskrokke kolfwerk.

Jy kan immers nie aggressiewe krieket speel wanneer jy terug in die kleedkamer is nie.

  • Opsomming van telkaart:

Engeland 116/6 ná 32 boulbeurte: Ollie Pope 61*, Anrich Nortjé 3/43 en Kagiso Rabada 2/36.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Ek hoop hulle kan die doodskoot vroeg lewer, want die Proteas het etlike spanne al in soortgelyke situasies gehad en dan die stert toegelaat om te veel lopies aan te teken.

Johan ·

Wel vir nou is dit lekker, maar laat ons maar self eers ons eerste kolfbeurt agter die rug kry!

George ·

Hulle het reeds die lopies, ons nie. Anderson in bewolkte weer is gevaarlik. So kalmeer, nog nie uitbowl nie ook nog nie gaan kolf nie. Moet nie dieselfde fout maak as die Bokke nie, waar 1 goeie dag jou die res laat onderskat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.