Protea-kolwers slaan terug op tweede dag

Lutho Sipamla. Foto: Catherine Kotze.

Dit was Lutho Sipamla (4/76) wat die bal vir die Proteas op die tweede dag van die eerste toets teen Sri Lanka op SuperSportpark in Centurion aan die rol gesit het.

Nadat hy harde bene op die eerste dag gekou het, het hy goed teruggeveg om drie vinnige paaltjies in sy debuuttoets te neem. Sri Lanka het steeds hul beurt op 396/9 afgesluit – hul hoogste telling ooit in Suid-Afrika.

’n Rits beserings het egter die besoekers se boul-koker van ’n hele paar aanvalspyle beroof. Voeg daarby ’n kolfblad wat normaalweg op dag twee en drie op sy beste vir kolfwerk is, en jy sit met Protea-kolwers wat vir die eerste keer in ’n hele paar toetse met vryheid en flair gekolf het.

Aiden Markram (68) het sy eerste vyftigtal in amper twee jaar geslaan, terwyl sy vennootskap van 141 saam met Dean Elgar (95) ook ’n welkome verligting is: Dit het die Proteas se openingskolwers 22 toetse geneem om weer in ’n vennootskap van 100 lopies te deel.

Dean Elgar en Aiden Markram. Foto: Catherine Kotze.

Maar oudergewoonte was daar weer ’n paar benoude oomblikke. Die tuisspan het twee vinnige paaltjies verloor en op 200/3 – steeds 196 lopies weg van Sri Lanka se eerstebeurttelling – het Faf du Plessis (55) en Temba Bavuma (41) die kastaiings uit die vuur begin krap.

Die Proteas het die dag op 317/4 afgesluit; die eerste keer sedert Mark Boucher die afrigtersleisels oorgeneem het dat die span meer as 300 lopies in ’n beurt kon aanteken.

’n Paar jaar terug – in die dae van Smith, Amla, Kallis, De Villiers en Steyn – sou hierdie toets so te sê reeds in die sakkie gewees het. Maar deesdae is ’n mens nie meer so seker nie – daar is immers steeds drie dae se spel oor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.