Protea-vroue kom hard terug aarde toe

Foto: Twitter.

Skaars ’n dag of twee nadat die Proteas se vrouekrieketspan die eerste eendagwedstryd op ’n drafstap teen Indië gewen het, is hulle met ’n harde slag aarde toe gebring.

Indië het die tweede kragmeting in die reeks met nege paaltjies gewen nadat hulle die Proteas vir 157 lopies uitgeknikker het.

Jhulan Goswami (4/42) en Rajeshwari Gayakwad (3/37) het gereeld kolwers terug na die kleedkamer gestuur en die Proteas se twee kolfheldinne van die eerste wedstryd – Laura Wolvaardt en Lizelle Lee – het vandag gesukkel.

Die 21-jarige Wolvaardt – wat in die vorige wedstryd die jongste Suid-Afrikaner geword het om 2 000 lopies in eendagkrieket te moker – is vir nege uitgehaal, terwyl Lee net vier lopies aangeteken het.

Suné Luus (36) en Lara Goodall (49) het probeer om die Suid-Afrikaanse skip na ’n veilige hawe te stuur, maar die Proteas is almal ná 41 boulbeurte uitgehaal.

Die Indiërs het daarna korte mette van die lopiejaagtog gemaak en hulle het die wenlopies binne 29 boulbeurte geslaan.

Shabnim Ismail het Sondag die Indiese kolwers laat bontstaan, maar sy het vandag amper agt lopies per boulbeurt afgestaan en moes met ’n boulontleding van 1/47 ná ses boulbeurte tevrede wees.

Maar, soos wat Danie Botha sou sê: As jy val, dan moet jy gou weer opstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.