’n Rekord vir 21-jarige Wolvaardt

Laura Wolvaardt. Foto: Saeed Khan/AFP.

Laura Wolvaardt (80) en Lizelle Lee (83*) se spoggerige openingsvennootskap van 169 lopies het saam met Shabnin Ismail se 3/28 gesorg dat die Proteas se vrouekrieketspan vir Indië met agt paaltjies oorrompel het.

Dit was die Suid-Afrikaners se sewende agtereenvolgende sege op die internasionale eendagverhoog nadat hullle ook vroeër met Nieu-Seeland en Pakistan afgereken het.

Terselfdertyd het die 21-jarige Wolvaardt die jongste Suid-Afrikaner geword om 2 000 lopies in eendagkrieket te slaan. Sy het in 54 wedstryde reeds 2 076 lopies teen ’n gemiddeld van 46,13 gemoker.

Die Protea-kaptein, Dané van Niekerk, het al vantevore Wolvaardt se lof besing.

“Sy is vinnig op pad om een van die beste spelers te word wat ons ooit sal sien,” het Van Niekerk gesê.

“Haar spel het aansienlik oor die afgelope paar maande verbeter en sy is skaars 21 jaar oud! Ek hoop dat ek nog speel wanneer sy ’n Suid-Afrikaanse legende of selfs ’n wêreldster word. Sy het ongelooflike potensiaal – nie net as speler nie, maar ook as leier van ’n span.”

Dit was egter nie net Wolvaardt en Lee se vennootskap wat die wedstryd vir Suid-Afrika beklink het nie; Ismail se uitstekende boulvertoning het die tuisspan tot 177/9 op ’n goeie kolfblad beperk.

Die 32-jarige snelbouler het onder meer van Indië se kaptein, Mithali Raj, ontslae geraak en sy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Die tweede wedstryd in die reeks begin môre om 05:30 (SA tyd).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Boer ·

Laura Wolvaardt wil jy nie dalk by die mans gaan speel nie want hulle weet nie hoe om krieket te speel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.