Soorte resepte:

Kook dié supervoedsel-sop vir gesonde vel, maag én immuunstelsel

Nicole Sherwin, die stigter van Eco Diva Natural Superfood Skincare. (Foto: Instagram/@nicolesherwin)

Wat is lekkerder as ʼn heilsame bakkie sop in die winter?

Wat van een wat smaaklik is, maar boonop kan help sorg vir ʼn gloeiende vel, ʼn gebalanseerde spysverteringstelsel en ʼn gesonde immuunstelsel?

Nicole Sherwin, die stigter Eco Diva Natural Superfood Skincare, ʼn 100% natuurlike supervoedsel- velsorg- en grimeringhandelsmerk, het ʼn voedsame sop wat beloof om al die bogenoemde in ʼn bakkie te bied.

Bestanddele soos boerekool, kekerertjies, gemmer, spinasie en broccoli is onderskeidelik ryk aan antioksidante, hoog in voedingstowwe, insluitend vitamiene A, en is boonop anti-inflammatories.

Sherwin se passie vir vel-, derm- en geestesgesondheid het tuis begin. Haar oupa was een van die stigters van Adcock Ingram van Ingram’s Camphor Cream-faam, en haar pa is ʼn bekende homeopaat en dermgesondheidspesialis.

Benewens haar sakeonderneming bied sy vandag ook holistiese velkonsultasies en grimeerklasse aan wat fokus op ʼn integrerende benadering tot ʼn gloeiende vel.

“Gedurende die winter is ʼn gesonde spysverteringstelsel belangrik om die immuunstelsel te ondersteun, seisoenale siektes te bekamp en algehele welstand te bevorder. Natuurlik wil ons ook ons vel gesond en gloeiend hou,” sê Sherwin.

Hier is haar supervoedselsop-resep:

Nicole Sherwin se supervoedselsop-resep. (Foto: Verskaf)

Bestanddele

  • 1 eetlepel olyfolie
  • 1 ui, fyn gekap
  • 3 knoffelhuisies, fyn gekap
  • 1 teelepel gerasperde gemmer
  • 2 wortels, fyn gekap
  • 2 stingels seldery, fyn gekap
  • 1 klein patat, geskil en gekap
  • 1 koppie boerekool (kale), fyn gekap
  • 1 koppie spinasie, fyn gekap
  • 1 koppie broccoli
  • 6 koppies groenteaftreksel
  • 1 blikkie tamaties
  • 1 blik kekerertjies, gedreineer en afgespoel
  • 1 teelepel borriepoeier
  • 1 teelepel komynpoeier
  • sout en peper na smaak
  • sap van 1 suurlemoen
  • vars koljander of pietersielie vir garnering

*Opsioneel: 1 eetlepel miso-patee

Metode

  1. Verhit olyfolie in ʼn groot pot oor matige hitte. Voeg gekapte ui, gemaalde knoffel en gerasperde gemmer by. Soteer 2-3 minute tot geurig.
  2. Voeg gekapte wortels, seldery en patats by die pot. Kook vir nog 5 minute, roer af en toe.
  3. Roer gekapte boerekool, spinasie en broccoli-boompies by. Kook vir 2-3 minute tot effens sag.
  4. Gooi die groenteaftreksel en blikkie tamaties saam met hul sap by. Voeg kekerertjies, borriepoeier en komynpoeier by en geur met sout en peper na smaak.
  5. As jy miso-patee gebruik, los dit op in ʼn bietjie warm water en voeg dit by die sop.
  6. Bring die sop tot kookpunt, verminder dan hitte en prut 20-25 minute, of tot dat al die groente sag is.
  7. Sodra die sop gaar is, verwyder dit van die stoof. Roer vars uitgedrukte suurlemoensap by.
  8. Skep die sop in bakkies en garneer met vars koljander of pietersielie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Voeg by 250g gesnipperde spek en 2 Russiese worsies in dun skyfies gesny en dat smaak nog beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.