Proteas begin WB-veldtog op ʼn goeie wennoot

Aiden Markram wens vir Gerald Coetzee geluk met een van sy drie paaltjies. Suid-Afrika het vir Sri Lanka met 102 lopies in sy eerste Wêreldbeker-wedstryd geklop. (Foto: Money Sharma)

Die Proteas het hul openingswedstryd van die Wêreldbeker-kriekettoernooi in Delhi op ʼn drafstap met 102 lopies teen Sri Lanka gewen.

Die grondslag vir die Suid-Afrikaners se oorwinning is ongetwyfeld deur hul drie kolfwerkhelde gelê: Quinton de Kock, Rassie van der Dussen en Aiden Markram het al drie honderdtalle aangeteken en hulle het toegesien dat die Proteas 428/5 in hul toegelate 50 boulbeurte kon aanteken.

Daarna het Sri Lanka moedig probeer om die lopies te jaag.

Kusal Mendis het met ʼn paar warrelwindhoue die bal oor die grenstou gestuur, terwyl Charith Asalanka ʼn bestendige vyftigtal aangeteken het.

Maar uiteindelik was ʼn wenteiken van meer 400 lopies net té veel; selfs al kolf jy teen meer as sewe lopies per boulbeurt.

Die Protea-boulers het gereeld paaltjies geneem om Sri Lanka se telbordmomentum te stuit, maar hulle het nogtans baie grenshoue afgestaan.

Marco Jansen is byvoorbeeld vir 92 lopies in sy tien boulbeurte geslaan en Mendis het op sy beurt ʼn rits sesse van Lungi Ngidi se boulwerk gemoker.

Tog verdien Suid-Afrika dié oorwinning.

As die kolwers hul vrolike wilgerlatfees kan voortsit, kan hulle beslis een van die gevaarspanne van die Wêreldbeker wees.

Nodeloos om te sê is Aiden Markram as die speler van die wedstryd aangewys.

Die 29-jarige kolwer het die vinnigste honderdtal in die toernooi se geskiedenis aangeteken toe hy die mylpaal van slegs 49 balle gevier het.

“Ek weet wat die span van my as ʼn kolwer verwag en ek probeer om ʼn positiewe ingesteldheid met slim krieket te kombineer. In die geheel was dit ʼn goeie kolfblad, die bal het oor die grenstou geseil en dit was ʼn wedstryd wat vir hope aksie gesorg het,” het Makram gesê.

Die Proteas speel Donderdag teen Australië in Lucknow.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 428/5 in 50 boulbeurte: Rassie van der Dussen 108, Aiden Markram 106, Quinton de Kock 100 en Dilshan Madushanka 2/86.

Sri Lanka 326/10 in 44,5 boulbeurte: Charith Asalanka 79, Kusal Mendis 76 en Gerald Coetzee 3/68.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.