Markram en kie moker manjifieke honderdtalle

Aiden Markram het ’n barshou teen Sri Lanka gespeel. (Foto: Sajjad Hussain/AFP)

ʼn Seisoen of twee gelede het die Proteas se swak kolfwerk vir die een kopseer ná die ander gesorg.

Nou, as ʼn mens so na die telkaart van hul eerste Wêreldbeker-wedstryd teen Sri Lanka in Delhi kyk, is dit ongetwyfeld ʼn sterk punt.

Quinton de Kock (100 lopies van 84 balle), Rassie van der Dussen (108 lopies van 110 balle) en Aiden Markram 106 lopies van 54 balle) het die lopiekrane oopgedraai om toe te sien dat die Suid-Afrikaners 428/5 in sy toegelate 50 boulbeurte kon aanteken.

Markram spog nou met die vinnigste honderdtal in Wêrelbeker-geskiedenis nadat hy die mylpaal van net 49 aflewerings met ʼn kragtige grenshou behaal het.

Die vorige rekord het agter Kevin O’Brien se naam gestaan toe die Ierse kolwer sy honderdtal van 50 balle teen Engeland in 2011 gevier het.

Markram, wat vandeesweek sy 29ste verjaardagpartytjie gehou het, het sy lopies teen ʼn treftempo van 196 geslaan en sy beurt het 17 grenshoue ingesluit.

Vroeër het De Kock en Van der Dussen ʼn vennootskap van 204 lopies om die tweede paaltjie geniet en dit het met tye gelyk of die Sri Lanka-boulers maar net ingehardloop het om te boul; hulle was planloos teen die vurige Protea-kolwers.

Later het Heinrich Klaasen (32 lopies van 20 balle) en David Miller (39 lopies van 21 balle) die langsteel ingelê en die Suid-Afrikaners kon meer as 130 lopies van die laaste tien boulbeurte aanteken.

Ja-nee, dit het omtrent vir jou sesse in Delhi gereën.

Vinnigste Wêreldbeker-honderdtalle:

  1. Aiden Markram (Suid-Afrika): 49 aflewerings
  2. Kevin O’Brien (Ierland): 50 aflewerings
  3. Glenn Maxwell (Australië): 51 aflewerings
  4. AB de Villiers (Suid-Afrika): 52 aflewerings
  5. Eoin Morgan (Engeland): 57 aflewerings.

Proteas: Quinton de Kock, Temba Bavuma, Rassie van der Dussen, Aiden Markram, Heinrich Klaasen, David Miller, Marco Jansen, Gerald Coetzee, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada en Lungi Ngidi.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.