Proteas het die hef in die hand op Wanderers

Foto: Krieket SA/Twitter

Met hul telling op 71/1 kon Sri Lanka heel tevrede voel met hul besluit om eerste kolf in Johannesburg. Die tuisspan se boulers was wisselvallig en Kusal Perera het reeds 11 grenshoue in sy beurt van 60 geslaan.

Maar waar sy Protea-spanmaats dalk in die strik getrap het om te aggressief op die Wanderers-kolfblad te probeer boul, het Wiaan Mulder weer eens gewys dat gewone lyn-en-lengte-boulwerk dikwels ’n bouleenheid se beste wapen is.

Die jong veelsydige speler het binne ’n japtrap van drie kolwers vóór middagete ontslae geraak en die besoekers was in die pekel met hul telling op 84/5.

Anrich Nortjé het terselfdertyd ook vir Sri Lanka met sy vurige boulwerk laat bontstaan en hy het ses kolwers terug na die kleedkamer gestuur.

Die kombinasie van die aggressiewe Nortjé en die bestendige Mulder op die Wanderers-blad was een te veel vir die besoekers en hulle is vir slegs 157 lopies uitgeknikker.

Die duo het gereeld die buiterandjie van die kolf gevind en hulle is goed deur hul veldwerkspan ondersteun – Quinton de Kock het vir die agtste keer in sy toetsloopbaan vyf kolwers agter die paaltjies uitgevang.

Hoewel Aiden Markram (5) binne die eerste tien boulbeurte van die Protea-kolfbeurt deur Asitha Fernando uitgehaal is, het Dean Elgar en Rassie van der Dussen die Suid-Afrikaanse skip na baie veilige waters gestuur.

Veral Elgar het sy stempel op die wedstryd afgedruk en hy het teen uitskeityd 92 onoorwonne lopies agter sy naam gehad. Hy het reeds 16 grenshoue in sy beurt teen ’n treftempo van amper 80 geslaan  – die dae waar sy konserwatiewe kolfwerk onder kritiek deurgeloop het, blyk om iets van die verlede te wees.

Dit is nie aldag dat ’n span reeds die septer op die eerste dag van ’n toets swaai nie. En die Protea-kolwers sal môre poog om die wedstryd finaal buite Sri Lanka se bereik te plaas.

  • Opsomming van die eerste dag se spel:

Sri Lanka 157/10: Kusal Perera 60, Anrich Nortjé 6/56 en Wiaan Mulder 3/25.

Proteas 148/1: Dean Elgar 92 en Rassie van der Dussen 40.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.